21 Februarie 2020
Kerkkoor: Ons neem afskeid van Alida Cornelissen
Alida is 87jr oud en sy het gevoel dis nou tyd om op te hou koor sing – die gees is gewillig, maar die liggaam wil nie saamwerk nie! Dit is daarom vir my ‘n groot eer om ‘n huldeblyk aan Alida te bring, ná soveel jaar getroue kerkkoor sang.
Alida Cornelissen is gebore as die oudste kind in ‘n gesin van 7. Haar ouers werk vroeg in die dertiger jare by die Heilsleer Rehabilie Sentrum op Klawer – omdat daar niemand anders was nie, was haar pa die prediker. Daar het haar moeder haar vroeg-vroeg leer noothou. In haar st 9-jaar kry die kerk ‘n orrelis en sy begin met orrellesse, alhoewel haar ouers haar reeds in st 6 tydens ‘n groot begrafnis, die dodemars laat speel het! Die eerste troue waarvoor sy gespeel het, was vir ‘n dwerg vroutjie en daarná was sy gou in aanvraag om oral as orrelis af te los. Sy sê die orrel en koor sal altyd in haar hart weerklank vind. Dit was haar voorreg om in haar leeftyd op meer as 100 orrels vanoor die land te speel en elke keer was dit ‘n plesier.
Haar eerste roeping was egter vir maatskaplike werk, waarvoor sy na Hugenote Kollege op Wellington gegaan het. Gedurende daardie jare kon sy ook die Orrel Finaaleksamen daar aflê.
Sedert 1963 is Alida woonagtig in die stad en behartig sy die Polisie se weeklikse biduur. ‘n Hoogtepunt wat vir haar uitstaan is dat sy tydens die Polisie se groot fees daardie jaar, die voorreg gehad om die Polisiekoor af te rig en die diens in die Grootte Kerk te begelei. Staatspresident Swart en sy vrou was teenwoordig!
Dit is voorwaar jammer dat die ouderdom ‘n mens moet inhaal.
Van die kerkkoor se kant sê ons vir jou opreg dankie vir jou heelhartige deelname, getrouheid en meelewing vir só baie jare. Ons kon jou altyd deur ‘n ring trek en vir my persoonlik was dit net ‘n plesier om jou as koorlid te kon hê. Ons gaan jou verseker baie mis. Mag die Here met jou wees – ons wens jou net die allerbeste vir die pad vorentoe.
René Ferreira
Orrelis