17 Julie 2020
Mary Liebenberg is in 1937 gebore, en bly op die oomblik by haar kinders, Schalk en Charlene Botes, in Jagtershof. Hulle skakel by De Eike gemeente in. Op ‘n ouderdom wat baie mense afgetree het van enige betrokkenheid by die kerk se werk, brei tannie Mary al van 2010 af poppies vir Straatwerk (wat die klein gebreide poppies gebruik in hulle werk met getraumatiseerde kindertjies). Sy was lid van die Baptiste kerk in Goodwood, waar hulle haar ingespan het om te brei. Elke keer wat sy 100 poppies klaar het, word hulle by die kantore in Parow afgelaai.
Dis vir tannie Mary ‘n passie. Sy sê sy leef haar daarin uit om elke poppie uniek te maak. In die proses gebruik sy die kleinste bolletjies wol – party keer net so ‘n lang stuk, wat sy dan aanmekaar las. Sy mors letterlik niks wol nie! Sy sê dit hou haar besig en sy voel sy doen iets vir die werk van die Here. Sy moedig ander ou mense aan om ook te begin brei vir Straatwerk. Dit neem die aandag weg van jouself en Straatwerk het regtig die poppies nodig.
Dit word gebruik om die kinders te leer dat die Here ons almal uniek gemaak het en dat Hy lief is vir ons almal Hulle gebruik die poppies ook om die kinders te leer oor molestering, sodat hulle sal praat as daar so iets met hulle gebeur.
Al is tannie Mary gediagnoseer met kolonkanker, het dit haar nie gestop nie. Haar dogter vertel hoe sy party keer gaan inloer waar tannie Mary bietjie gaan lê het en dan sien sy nog net hoe die breinaalde steeds beweeg!
Tannie Mary stuur vir julle almal baie groete! Tannie Mary, u is regtig vir ons almal ‘n inspirasie! Miskien kry ek haar sover om vir ons ‘n foto van haarself ook aan te stuur, dan wys ek julle hoe sy lyk!