28 Augustus 2020

Elise van Wyk.

Ds Hannes,

Met die lees van die kennisgwing in Die Akker waarin die Roadhouse Basaar die eerste keer bekendgemaak is, was ek baie opgewonde. Dit het my teruggeneem na die tyd van die Drommedaris, of sommer die “Drom” soos ons jong klomp daarna verwys het, langs Parow se Voortrekkerweg. Die aanknip van die skinkbordjie met jou bestelling by jou motorruit en die flikker van die motorligte as jy klaar ge-ëet het, of as jy nog ietsie wil bestel, is aangename herinneringe.

Aan die span wat alles gereël het: Ons opregte dank. Julle het dit ongelooflik goed gedoen. Alles het seepglad verloop en dit kan net aan deeglike organisering toegeskryf word. Volpunte van ons kant af!

Die laaste week voor die basaar het ek behoorlik die slapies afgetel. Vir my was die Saterdagoggend besonders lank – dit wou net nie 11:00 word sodat ons kon kerk toe ry nie. Ek was so beïndruk met die flinke diens by die hek en ook van ons kelner. Die totsiens by die uitgaande hek was baie spesiaal. In sy diep stem het broer Rootman ons gegroet met “Vrede”. Tuis gekom, het ek en Phillie dadelik in ons Snoeshoek (Sonstoep) aangesit vir ‘n heerlike piekniek met ons basaarkos. Ek sal nogal gewoond kan raak aan so af en toe ‘n “kry en ry”-ete op ‘n Saterdag.

Elise van Wyk.

 

Mariana oor die Roadhouse Basaar:

Net ‘n paar syfers en feite vir die artikel oor die Roadhouse Basaar.

  • 250 bestellings is ontvang.
  • Aflewerings is gedoen by Huis de Kuilen, Othello, Andante, Klaradyn en paar privaat adresse.
  • Die randwaarde van die bestellings was R70 000.
  • Saam met donasies en die opbrengs van die kombuiseiland wat per veiling verkoop is (R10 000) staan die totale opbrengs tans op R123 735.52.

Tannie Martie Joubert (Poedings) vertel dat sy op ‘n stadium baie bekommerd was dat sy nie genoeg poedings gaan hê nie en het vir die Here gevra om ‘n wonderwerk te laat gebeur soos met die broodjies en die vissies. Die wonderwerk het toe gebeur en daar was baie meer as 12 mandjies poeding oor. Nadat al die werkers en helpers van die poeding gekoop het, is daar Maandagoggend ongeveer 80 liter koue poeding by Huis de Kuilen afgelaai. Die inwoners was baie opgewonde en dankbaar oor die lekker bederf op ‘n Maandag.

Groete

Mariana