28 September 2018
- Ons toer na Alpaca-plaas by Klein Limietrivier (agter die Groenberg, Wellington) en die Toeka-restaurant op Donderdag, 20 September.
Sewe en vyftig toerlede, insluitend dominee Johan en Riette Morkel, was verras om op die klein plasie, afgesien van ongeveer ses honderd Alpaca-skape, soveel baie kosbare en duur masjiene te sien, waarmee die skaapwol verwerk word tot breimateriaal. Wanneer die wol geskeer is, word dit eers skoon gemaak en gekam, en dan met ingewikkelde prosesse verander in `n baie sterk garing.
Die wol is oorspronklik dieselfde kleur as die dier wat geskeer is, d.w.s. bruin, swart of wit, maar vernuftige mengsels, ens. verander dit uiteindelik in baie verskillende ander kleure.
Die diere wei bedags in klein kampies waarin groen weiding groei en snags slaap hul in krale in `n stoor, waar hul verder tuisgemengde meel voorgesit word.
Daar was toevallig `n baba-Alpaca wat tien dae gelede gebore is en dié is veral deur die dames geliefkoos.
Dat dit gespesialiseerde vernuf en baie geld kos om so `n boerdery te bedryf, is `n feit waarvan `n voornemende Alpaca-boer moet kennis neem.
Ons besoek aan die Toeka-restaurant en stoor vir oudhede was `n verdere verassing.
Diegene wat dink dat jy hier net `n vinnige verversing kan nuttig en dan aan ry, sal uitvind dat hy of sy vele items sal sien wat hom of haar aan hul jong dae sal herinner.
So byvoorbeeld het ons eers bobotie en hoenderpastei, asook malva- en sago-poeding en om af te sluit `n regte beker moerkoffie gekry as middagete. Hierdie maal kon ons nuttig omring van items uit vroeër dae, soos:
- daar was kennisgewings, soos J Rabinowitz Algemene Handelaar, van destyds;
- trourokke van vele bruide uit die dae toe ons nog jonk was;
- vele stootwaentjies vir babas;
- baie ou soliede hout lessenaars, met trommels en kratte vir rekords;
- advertensies en handpompe van petroleumprodukte uit die dae voor elektrisiteit ons deel geword het;
- daar hang verskeie fietse teen die plafon;
- tussen dit alles is daar `n passasiers-bus, `n 1950-model Ford Prefect-, `n A30 Austin-, Chevrolet- en Volvo-karre, asook vele ou model lorries en trekkers wat die ou mense aan die praat gekry het, oor hoe hul daarmee rond gery het;
- daar is werklik te veel om op te noem.
Ek stel voor gaan kuier self en stel jouself tevrede met wat `n mens alles kan opgaar. Toeka neem jou geheue terug met antieke trekkers, ou boerdery toerusting, ou motors en `n goeie atmosfeer. `n Plek vir familie en vriende om die vrede en rus te ervaar. Geniet hulle ontbyt op die plaasstyl of ‘n ligte middagete terwyl u hulle versameling bewonder.
Johan & Miemie Loubser
- SENIOR BURGERS BESOEK ALPACA BOERDERY
En so vertrek die bus op ‘n heerlike sonnige Donderdagoggend 20 September vol De Eike seniors na Klein Limietrivier, so ‘n entjie anderkant Wellington. Hier boer Stephen en Linda met Alpacas. Op pad soontoe kon die sprokiesmooi sneeu-bedekte bergtoppe in die verte uit die bus gesien word. Op die plaas aangekom, verskaf Stephen en Linda kortliks aan ons die agtergrond oor hoe hulle aan die plaas gekom en besluit het om met Alpacas te begin boer. Die eerste diere is vanaf Chile ingevoer en die boerdery is nou 7 jaar in bedryf. Dit was ‘n vreemde gesig en Stephen vertel dat hul bure na die Alpacas as langnek skape verwys het.
Ons was ‘n groot groep en om dinge te vergemaklik, verdeel ons in twee aparte groepe. Stephen lei die een groep en Linda die ander een op ‘n besigtigingstoer van die kampe met die diere en die fabriek waar die wolvesel verwerk word.
Groot gespesialiseerde masjienerie word ingespan om die rou wolvesel te suiwer, te was, te droog en in verskillende kleurskakerings te meng voordat dit gespin word om uiteindelik gebruik te word om gesogte kledingstukke en ander artikels mee te vervaardig. Vandat die Alpacas se wol geskeer word tot by die eindproduk is ‘n enorme lang proses en bestaan uit nie minder nie as 12 stappe. Volgens Stephan is die masjienerie wat hulle gebruik van oral oor uit Europa ingevoer. Sekere aanpassings was wel nodig omdat die Alpaca-wolvesel so delikaat en fyn is.
Ons was bevoorreg om ‘n baba Alpaca te sien en selfs vas te hou. Gelukkig is die ooie besonder rustig en hou daarvan om gestreel te word. (Iets interessant in verband met Alpacas: die ramme is blykbaar goeie waghonde en daarom ideaal om saam met ‘n trop skape geplaas te word). Die ooie is gemiddeld 340 dae dragtig en gedurende diè tyd slaap hulle snags onderdak met netjiese voer- en drinkplekke. Hulle word reeds van vroeg af “gepotty train”. In die winkel op die plaas is van die klaar produkte te koop: van sokkies, komberse, serpe, truie, matte tot bolle wol.
Na al hierdie opwinding is ons na die Toeka Stoor buite die Paarl vir middagete. Die ete is afgesluit met koffie/tee uit blikbekers. Daar is so baie by hierdie stoor te sien en ek wil teruggaan om alles rustig te bekyk. Dankie Ds Johan en span vir ‘n voortreflike uitstappie en baie leersaam. Ek is seker ek praat namens almal wat dit meegemaak het as ek sê ons het min of geen kennis van Alpacas gehad toe ons hier vertrek het nie, maar het vol kennis huiswaarts gekeer.
Elize van Wyk