6 Junie 2025
Ter inleiding:
Uit die onderstaande verslag sal jy as gemeentelid waarskynlik meer insae kry in al die aktiwiteite wat in-en rondom die kerk gebeur. Tydens kerkraadsvergaderings word die hele kerkraad ingelig oor alle kommissies se werksaamhede deur middel van vooraf opgestelde verslae wat vooraf beskikbaar gemaak word.
Die kerk se werk word meestal deur kommissies bedryf. Die Uitvoerende Kommissie het ‘n oorsig en koördinerende rol te speel tussen alle kommissies en hulle werksaamhede. Kommissies vergader kwartaaliks en word byeen geroep deur ‘n voorsitter. Kommissie werksaamhede word aan die volle kerkraad gerapporteer op kwartaalikse basis en tydens kerkraadsvergaderings word kerkraadsbesluite geneem wat ander kommissies of die gemeente direk raak – waaroor die kommissies nie ‘n volle mandaat het nie. Kommissies neem dus hul eie besluite en implimenteer dit ook maar hulle eskaleer sake van gemeenskaplike belang eers na die kerkraad waar die kerkraad oor meer belangrike sake van gemeenskaplike aard besluite neem alvorens kommissies implimenteer. Kommissieverslae word dus ook opgestel onder twee opskrifte naamlik vir kennisname aan die kerkraad en tweedens, sake waaroor die kerkraad moet besluit – word onder “Vir besluitneming” geklassifiseer. Op hierdie manier is kommissies en voorsitters van kommissies bemagtig om hulle taak effektief te volvoer en kerkraadsvergaderings verloop gewoonlik, vinnig en doeltreffend.
Kommunikasie – besluit was geneem om weer soos ‘n klompie jare gelede die gemeente in te lig oor sake wat ter tafel was tydens die kerkraad se vergadering en daarom word hierdie skrywe aan jou gerig om jou in te lig.
Personeelsake – Dit is gerusstellend om te kan rapporteer dat ons twee baie bekwame mense het wat enkele maande gelede hulle hande opgesteek het en onskatbare waardevolle werk in die Diensverhoudinge Kommissie (DVK) doen. Die DVK bestaan uit Jacomina Swart en Theunis Kotze. Biede het ‘n regs agtergrond en dit is lekker om telkens van wel deurdagte regsadvies voorsien te word in die kerkraad. Die twee het ook werk gemaak daarvan om die personeelfunksie oor te neem en personeelkontrakte is nagegaan en in lyn met wetgewing gebring.
Wat ons leraars se kleredrag betref: Jy sou ook al opgemerk het dat ons predikante nie meer so gedas en gebaadjie aantrek tydens hulle preekbeurte nie. Daar is baie gemeentes waar hulle predikante net so gemaklik aantrek soos hulle gemeentelede en daarom was daar ‘n besluit deur die kerkraad geneem dat predikante nie meer soos voorheen formeel hoef aan te trek met das en baadjie vir eredienste nie. Met spesiale geleenthede soos bevestigings van predikante of ander hoë profiel dienste en byeeenkomste mag hulle egter besluit om sodanig aan te trek en selfs ook met ‘n toga aan, sou hulle so verkies vir daardie geleentheid. Jy kan dus verwag om voortaan meer informele leraars op die preekstoel te sien.
Die Pre-Advieskommissie – (wat die kerkraad moet bystaan en van advies bedien met ‘n kortlys van belangstellende predikante waaruit beroepbare kandidate gekies moet word) is saamgestel uit die vorige kommissie se lede naamlik Maartin Oliver, Ds Johan Janse van Rensburg, Jacomina Swart, Elmarí Schwenke-van der Walt, Robert Rootman, Lize Fölsher, met Mariana van Schalkwyk in ‘n administratiewe rol. Piet Rootman sal ook deelneem aan die onderhoudsproses wat later sal plaasvind as gekoöpteerde lid. Daar is besluit dat ‘n geskikte aanstellingsdatum vir die nuwe leraar 1 Januarie 2026 sal wees. Die advertensie vir die toekomstige vakature het pas in die jongste Kerkbode en Vrydagnuus verskyn. Jy is welkom om gelegitimeerde leraars waarvan jy weet te nomineer om in ag geneem te word vir die beroepingsproses. Gee asseblief die naam/name deur aan Mariana by die kerkkantoor.
Fondse Kommissie – Danksy volgehoue fokus en harde werk van Elmarí Schwenke-van der Walt en haar span toon ons kerk se finansies ‘n meer gunstig tekort as die van die afgelope drie jaar. Ons maak dus vordering om die tekort op ons inkomste uit te wis met allerlei fondsinsameling pogings en om uitgawes noukeurig te bestuur. Die geouditeerde state was ook tydens die kerkraadsvergadering goedgekeur.
Gemeentebediening – Groot dank aan elkeen in die gemeente wat reageer het en deelgeneem het om insette te gee vir die Gemeentebedieningspan met die vraelyste wat vroeër vanjaar uitgedeel was. Op Saterdag 12 April was daar ‘n werkswinkel gehou waartydens die insette van die gemeente en ook dit wat uit die werkswinkel voortgevloei het te bespreek. Aksieplanne is hieruit opgetrek. In hooftrekke word die volgende punte in die Aksieplan aangespreek:
- Blokke gaan heringedeel word om ‘n beter verspreiding van besoekpunte te verseker.
- Besoek versoek vormpies word voortaan in die kerkbanke beskikbaar maak om dit makliker te maak vir lidmate om spesifieke behoeftes onder die kerkraad en leraars se aandag te bring.
- Meer gereelde kommunikasie na die gemeente waarvan hierdie aflewering aan jou ‘n begin daarvan is.
Die Gemeentebediening-span onder Jakkie (Jacomina Swart) se leiding het ook verskeie fondsinsameling pogings wat hulle loods deur die res van die jaar soos:
- Die voetspore van Jesus fondsinsameling is goed op dreef. Die gemiddelde maandelikse bydraes as gevolg hiervan is alreeds R7,000 per maand meer met enkele eenmalige bydraes. Dit kom dus op ongeveer R84 000.00 vir die jaar meer neer wat help om die tekort op ons begrote uitgawes uit te wis.
- Waterverf en wyn met Willie-projek. Willie Schlechter bied twee Saterdag-oggend kunsklasse aan om te skilder met waterverf. Die klasse blyk baie gewild te wees met plek vir 20 mense. Die eerste een sal op 21 Junie geskied en die tweede op 6 September.
- Twee Vrydagaand wegneem-ete aande word in die vooruitsig gestel vir 27 Junie en 31 Oktober.
- Daar is ook ‘n Damesoggend met Amanda Swanepoel geskeduleer vir 16 Augustus. Die tema sal wees “Gekroon met liefde” uit Ps 103:4.
- Augustus het nog ‘n lekkerte met Frank Opperman se Reunie wat by ons aangebied word met kosstalletjies en nog meer verrassings. Bespreek solank nou al jou plek vir 23 Augustus. Dit gaan sommer lekker wees.
- Op 27 September is daar ‘n hoenderbraai op die program. Jy sal kos kan wegneem of gesellig saam kuier by die kerk.
Jeugkommissie – Hierdie kommissie met mense soos Lize, Riëtta, Joline, Susan, Elmarie, Stefanie, Maureen, Neré, Samantha en ander helpers doen ongelooflike ewigheidswerk. Tans is daar 144 kinders onder die vlerke van die jeugbediening ingeskryf. Die Kinderkerk se getalle staan op 69 en die bywoning was soveel as 81% op ‘n keer. Daar is 42 kinders by die Senior Kategese betrokke met bywoningsyfers wat sowat 55% beloop. Ons Belydenisklas het 11 kinders waarvan 2 help by die Kleuterkerk en die klas is ook deel van Robert Rootman se Erediensspan wat kollekteer tydens eredienste. Die Jeugbediening is besig met allerlei dinge soos kampe waarvan die afgelope Imagine een was, pannekoek-bak vir Aksie Samaritaan, om doppies in te samel vir die Paarl Skool, insamelings van boeke en noodhulp-items vir Aksie Samaritaan, swart sakke verkoping vir fondsinsamelings. Heelwat energie en fokus word aan Aksie Samaritaan gegee met Jakkie Swart as skakelpersoon by die bedieningsliggaam. Op hierdie manier is De Eike se jeug ook betrokke by missionale werk van die kerk. Hierdie bediening verg baie insette en daar is ‘n lang lys van aktiwiteite en behoeftes waaraan deurlopend aandag gegee word.
Riëtta wat leiding geneem het met die Kinderkerk lê na 25 jaar die tuig neer en oorhandig aan Nicole Snyman vanaf Januarie 2026. Riëtta het vroegtydig haar uittrede aangekondig sodat daar genoegsame tyd oor is vir oorhandiging en “indiens-opleiding”. Ons is dankbaar vir die saad wat sy oor ‘n kwarteeu in so baie kinderlewens se geestelike lewe gesaai het. Hoewel Riëtta uittree by hierdie bediening gaan sy steeds aktief vir die Here en Sy koningkryk beskikbaar wees en werk, – net in ander bedienings en ander rolle. Ons dank en wense van voorspoed vergesél vir haar.
Eiendomme – onder leiding van Henty Wickens is gemoeid met die kerk se vaste bates wat voortdurende instandhouding verg. Oor die afgelope maande was groot werke verrig teen uiters billike koste waarvoor Henty en Elmarí (as Minister van Finansies) groot dank verdien. Die pastorie lyk sommer weer nuut met ‘n nuwe verf-baadjie. Die kerksaal se mure het baie probleme met lekplekke gehad en groot werk was gedoen om mure oop te maak en nuwe waterdigting in te voeg. Tans is daar ook ‘n uitdaging met die drabalk tussen die kerk en die saal wat aandag benodig. ‘n Weldoener het intussen na vore getree en aangedui dat hierdie herstelwerk gratis gedoen sal word.
Sommige mense sou al gesien het dat daar by die kerk se erf op die een hoek ‘n kamera opgesit is met ‘n kennisgewing om mense in te lig dat hulle of hulle voertuie afgeneem word. Een van die sekuriteitsmaatskappye, Titanium, is besig om oral in dorpsgebiede soos Brackenfell en Kuilsrivier kameras op hulle koste te installeer om gemeenskappe te beveilig en De Eike en die groter Soneike is tans die gelukkiges wat hierdie pasiewe beskerming geniet. Die kamera is van die LPR-soort wat nommerplate lees en wat verbind is aan ‘n beheerkamer met ‘n databasis. Hulle is in staat om dadelik verdagte voertuie, onder meer gesteelde voertuie, uit te ken en op te volg en aan die SAPS te rapporteer.
Die kerk se toring wat nou al ‘n paar jaar ‘n gevaar vir ons inhou is ‘n groot klip in die skoen maar daar is vordering. ATC, ‘n maatskappy wat torings oprig en die toringruimte beskikbaar maak aan netwerk verskaffers soos MTN, Vodacom en dies meer gaan ons toring sloop en ‘n nuwe alternatief oprig teen geen koste. Hulle gaan verder vir ons huur betaal vir die reg om op ons perseel die netwerkmaste te kan huisves. Voorts wek ons alreeds krag op met sonpanele op ons dak en met die nodige uitbreiding daarvan kan ons ook elektrisisteit opwek en voorsien aan ATC wanneer hulle, hul intrek by ons neem. Die rede hoekom ons nie self die toring ten minste gesloop het intussen nie is suiwer as gevolg van koste. Dit sal ons sowat R700k kos. Ons moet dus maar geduldig wees maar ons het ‘n tydlyn van einde Julie by ATC gekry waarbinne hulle hoop om met konstruksie te begin.
Die Erediens en Aanbidding Kommissie – onder leiding van Lorraine Louw is gemoeid met alles rondom eredienste, Youtube uitsendings, musiek en koor. Die kommissie is tans aan die uitkyk na ‘n alternatiewe stromingstelsel.
Die Getuieniskommissie onder leiding van Louis Hurter is oor ‘n wye front bedrywig met hulle missionale werk en voortdurende aandag word gegee aan hulp en inisiatiewe met Huis De Kuilen, Huis Sonop in Stikland, ook betrokkenheid by Ds Danie Murray wat werk met Mosambiek se bearbeiding. Die kerk se Klere en Vere inisiatief help ook om mense wat dit nie breed het nie geklee en warm te hou terwyl die kospakkie-projek ook al baie gesinne deur moeilike tye gehelp het. Oral is mense stilweg besig om aktief te werk, om sodoende die hande en die voete van Jesus te wees waar dit nodig is.
Ten slotte:
Hierdie verslag reflekteer slegs ‘n deel van die werksaamhede van die gemeente maar veel meer is daagliks aan die gang waaroor nie hierbo verslag gedoen word nie. Daar is bv. lidmate wat gemoeid is met gasvryheidsbediening, hospitaalbesoeke, berading, kleingroepe en Bybelstudies en vele meer. Daar is ook aktiwiteite wat fondsinsamelings te doel het soos die jaarlikse basaar en wynveiling. Ons het ook lidmate wat hulle liefde en talente uitleef met tuinmaak en wat help toesien dat ons kerk se tuine pragtig versorg is. Ons is ook dankbaar vir ander wat hulle toelê op ons veiligheid en sekuriteit en wat sorg dat ons eiendom veilig is terwyl ons eredienste bywoon. Die kerk ontvang ook van tyd-tot-tyd boeke en ander materiaal wat ‘n nuwe heenkome moet kry. Sommige lidmate vir wie dit ‘n passie is sien weer om na die versorging van sulke skenkings om dit aan mense te besorg wat dit kan gebruik en behoefte daaraan het.
Die kerk en sy geloofsgemeenskap bied dus aan elke lidmaat wat wil, ‘n bediening of ‘n aksie om by betrokke te raak. ‘n Betrokke lidmaat is ‘n gelukkige lidmaat.
De Eike groete