2 November 2018
Ons leraars
“Ek is van mening dat daar baie lidmate is wat slegs die gesigte van ons leraars ken maar min verder van hulle weet. Hulle sal dit dalk interessant vind om hul beter te leer ken. Ek gaan nou eers die eerste twee bekend stel en volgende keer die ander. My persoonlike opinie is dat hoe beter jy jou leraars ken, hoe nader beweeg jy aan die kerk en dan het jy ook meer vrymoedigheid om jou privaatsake met hulle te bespreek. Hierdie is dan ook my laaste bydrae as argivaris.” – Theo
Ek begin by ons eerste predikant: ds Dirk Venter. Hy is in 1977 beroep na die gemeente vanaf Calvinia, en sy vrou, Lerina, is steeds ‘n lidmaat van De Eike. Ds Venter het in 1992 afgetree en is ‘n paar jaar later oorlede. Hulle het twee kinders: Daniël is ‘n regsgeleerde wat in Dubai woon en Marina is ‘n sekretaresse by Sanlam. Ds Venter het studeer by die Sendinginstituut op Wellington en die grade BA en BTh verwerf. Hy het in Aurora grootgeword, terwyl Lerina in Worcester gebore is en in Wolseley grootgeword het. Sy is as maatskaplike werkster in Wellington opgelei.
As gevolg van uitbreiding van die gemeente is ds Johan Morkel in Junie 1984 as tweede leraar vanaf George-Suid beroep. Hy is in Porterville gebore, en het op hulle familie wynplaas, Bellevue, grootgeword. Hy en sy tweelingbroer Dirkie was op Paul Roos-Gimnasuim, waar hulle op die sportveld uitgeblink het. Johan het toe op Setellenbosch BA (Admissie) en Bth-grade ontvang. Johan is getroud met Riëtte (wat in Vereeniging gebore is, en in Windhoek en George grootgeword het). Sy het gematrikuleer aan die Hoërskool Outeniqua op George, en het ‘n NQ5-sertikfikaat in die eiendomswese behaal. Hulle het twee dogters. Marlene is ‘n dosent in Pediatrie en Jolandi is ‘n kopieskrywer met ‘n BA-graad in tale.
Nadat Johan in einde 2016 afgetree het, is hy ‘n kontrak aangebied, hoofsaaklik om Othello Aftreeoord se mense te bedien. Daar bedien hy tans 118 losstaande huise en 378 woonstelle, asook ‘n siekeboeg. In sy vrye tyd kweek Johan Bonsais.
Volgende week gesels ons oor die res van die leraars!