21 Oktober 2022
Die Israeliete is reeds vroeg in die Ou Testament geleer om dankoffers aan God te bring.
Lev. 27:30: “Een tiende van al die produkte van die land behoort aan die Here, of dit nou graan of vrugte is. Dit is aan die Here gewy.”
Deut. 14:23b: “Jy moet die tiende opsy sit van jou koring, jou wyn en jou olie en dan ook nog die eerstelinge van jou grootvee en jou kleinvee, sodat jy kan leer om die Here altyddeur te eer.”
Deur die Israeliete te leer om gereeld hulle tiendes te gee, herinner God hulle daaraan dat hulle rykdom en goeie oeste nie te danke is aan hulle eie voortreflikheid as boere nie, maar aan God se seën en Sy voorsiening. Wanneer die Israeliete dus ‘n tiende van die oes aan God terug gegee het, was dit om hulle dankbaarheid te betoon teenoor Hom van wie alle gawes in die eerste plek afkomstig is.
Die boodskap is vandag nog dieselfde: ‘n deel van ons inkomste moet aan die Here gewy word, sodat ons Hom daardeur kan eer.
Vir ons is die gee van ons dankoffers nie net ‘n manier om ons dankbaarheid aan God te betoon nie, maar ook ‘n manier om vrug te dra. (Verwys gerus na vers 3 van ons gemeente se ankerteks: Ps. 1)
Kom ons wy onsself dus opnuut weer aan God wanneer ons besin oor ons dankofferbydraes.
Daar is verskeie maniere om jou Tiendemaanddankoffer te bring:
- Per Tiendemaanddankofferkoevert (insameling vind plaas op 30 Oktober 2022)
- Per EFT (gebruik “Tiendemaand” as verwysing)
- Per Snapscan (gebruik “Tiendemaand” as verwysing)
- Jy kan ook jou bydrae na die kerkkantoor bring, of
- Jou debietorder slegs vir een maand verhoog (waarna dit weer herstel na die gereelde bedrag) – reël dit met die kerkkantoor.