3 Oktober 2019
1. Bid vir Egipte
Liewe gebedsvriende
Die afgelope dae het klein getalle Egiptenare in Kaïro en ander stede regoor Egipte betoog om hul misnoë oor die aantygings van korrupsie deur president Abdul Fattah el-Sisi en sy regering, te kenne te gee. Die protesoptrede – wat ongekend is in el-Sisi se Egipte – het die skree van slagspreuke, wat tydens die Arabiese lente-rewolusie in 2011 gebruik is, ingesluit en het tot skermutselinge en tientalle arrestasies gelei.
Die betogings is aangevuur deur aanlynvideo’s deur Mohamed Ali, ’n voormalige kontrakteur en deeltydse akteur, wat in ballingskap in Spanje woon. Hy het el-Sisi en ander hooggeplaasde amptenare daarvan beskuldig dat hulle miljoene spandeer aan luukse hotelle en huise, terwyl baie Egiptenare ekonomies swaarkry.
Sommige ontleders meen dat daar ’n onderliggende woede en frustrasie in die land heers, wat verband hou met kwessies oor demokrasie en die meer diktatoriale leierskap van el-Sisi, asook deurlopende ekonomiese ongeregtighede. El-Sisi het in 2014 aan bewind gekom nadat hy die weermag gelei het om die Moslem-broederskap se Mohammed Morsi (in 2013) te ontsetel. Baie in die Weste beskou el-Sisi (en Egipte) as ’n stabiliserende mag in die streek.
Hoewel Christene ’n minderheidsgroep in Egipte is, maak hulle ’n beduidende deel van die bevolking (na raming 10%) uit en hulle is die grootste liggaam van gelowiges in die Arabiese wêreld. Bid saam met ons vir die Kerk in Egipte (dat Christene die goeie in die land sal meebring) en vir diegene wat ekonomies swaarkry (dat hulle die Here sal leer ken as hul liefdevolle Vader).
“Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte…” (Jesaja 19:25a)
2. Bid vir China
Op Dinsdag 1 Oktober het China 70 jaar se Kommunistiese Party-bewind gevier, ter herdenking van die dag toe Mao Zedong die stigting van die Volksrepubliek China verklaar het. Ondanks Mao se kontroversiële nalatenskap (sy beleid het gelei tot die dood van miljoene mense), is die hedendaagse China se ‘stigtersvader’ tydens dié vieringe vereer.
Die feesvieringe het onder meer die vrylating van 70,000 duiwe ingesluit tydens een van die grootste militêre parades, wat verskeie voorbeelde van nuwe plaaslik vervaardigde wapens ten toon gestel het. Benewens die wêreld se tweede grootste ekonomie, het China nou ook die tweede grootste militêre begroting. Die herdenkingsvieringe is bedoel om die opgang wat China gemaak het van ’n verlammende oorlog en hongersnood na ’n moderne, magtige staat, te vier en te demonstreer.
Die hedendaagse China staar ??egter ’n aantal uitdagings in die gesig, waaronder die handelsoorlog met Amerika en maande van pro-demokrasiebetogings in die semi-outonome Hong Kong.
Namate China as ’n nasie gegroei en ontwikkel het, só ook het die Chinese Kerk gegroei. Ondanks dekades van ernstige vervolging deur die regering, is daar amptelik tans ongeveer 60 miljoen Christene in China (hoewel die werklike getal waarskynlik tussen 100 en 120 miljoen is) en kan die Chinese Kerk teen 2030 die grootste Christelike bevolking ter wêreld uitmaak. Chinese sendelinge het oor die afgelope paar jaar die meeste van die ‘ekonomiese deure’ wat oopgegaan het, gemaak om die omliggende lande met die evangelie te bereik.
Bid asseblief saam met ons vir hierdie uiters strategiese nasie.
“Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon.” (Handelinge 17:26)
Saam in Sy diens
Cherolyn Amery (namens Donnelly McCleland)