15 Augustus 2019

Liewe gebedsvriende

Op Sondag 21 Julie is parlementêre blitsverkiesings in die Oekraïne gehou. Hierdie verkiesings is vervroeg nadat die nuutverkose president Volodymyr Zelenskiy op 21 Mei 2019, tydens sy inhuldiging, die parlement ontbind het. Sonder die steun van die parlement sou die president nie daartoe in staat wees om enige hervormings in te stel of die kabinet, wat hy by voormalige president Petro Poroshenko geërf het, te verander nie.

Sedert die Oekraïne in 1991, met die ineenstorting van die Sowjet-Unie, onafhanklikheid verkry het, was hierdie resultate die hoogste verteenwoordiging van enige party in ’n parlementêre verkiesing. Dié oorweldigende meerderheid gee vir Zelenskiy die mag om die land se nuwe regering te vorm.

Zelenskiy het bewys dat hy daartoe verbind is om die beloftes wat hy tydens sy veldtog gemaak het na te kom deur baie veranderinge aan te bring in die kort tyd wat hy die amp beklee. Hierdie drastiese veranderinge is egter met ’n mate van teenstand en nagatiwiteit begroet.

Zelenskiy beplan nie net om korrupsie hok te slaan nie, hy het ook die oorlog in die Donbass-streek van die land ’n prioriteit gemaak. Op 18 Julie het Rusland, die Oekraïne en Europa se top sekuriteitsliggaam ’n wapenstilstand “van onbepaalde tydsduur” aangekondig. Ontleders beskou dit as ’n belangrike stap in die proses om die die vyfjaar-konflik te beëindiging (geen vorige wapenstilstand het gesamentlike pogings behels nie).

Bid asseblief saam met ons vir die Oekraïne, hul nuutverkose leier, sowel as hul parlementêre verteenwoordigers. Bid ook vir die versoening van gemeenskappe en dat die Kerk ’n effektiewe rol in hierdie proses sal speel.

“’n Ware leier in nie iemand wat soek na konsensus nie, maar eerder iemand wat konsensus tot stand bring.” (Martin Luther King, Jr.)

Saam in Sy diens

Gigi Kotzé en Donnelly McCleland

 

Liewe gebedsvriende

Op Woensdag 7 Augustus het die Europese Kommissie aangekondig dat hy €50 miljoen ($56 miljoen) in nood humanitêre fondse bewillig om gemeenskappe wat deur die droogte, in die Horing van Afrika geraak word, te ondersteun. Die droogte het middel 2018 begin en die streek het minder as 50 persent van sy gemiddelde jaarlikse reënval tussen Maart en middel Mei 2019 ontvang. Hierdie droogte raak meer as agt miljoen mense in Ethiopië, meer as vyf miljoen in Somalië en meer as 1.5 miljoen in Kenia. Die vorige droogte in die streek (van middel 2011 tot middel 2012) het tussen 50,000 en 260,000 lewens geëis en noodlenigingsagentskappe het onmiddellik ingegryp om soortgelyke verliese te voorkom.

Baie van die droogtegeteisterde gebiede, word ook deur interne geweld en konflik geraak, aangesien veewagter-gemeenskappe om kwynende hulpbronne meeding. Baie mense is ondervoed en die behoefte aan voedselhulp het toegeneem. Volgens die Verenigde Nasies se kantoor vir die koördinering van humanitêre bystand (UNOCHA) benodig ongeveer 13 miljoen mense dringende voedselhulp. Dit sal na verwagting in die komende maande toeneem, omdat opeenvolgende swak reënseisoene hul bestaansmiddele vernietig het en gemeenskappe nie meer die vermoë het om vir hulself te sorg nie. Gepaardgaande met die droogte, bestaan die gevaar van aansteeklike siektes soos cholera, tifus, diarree, akute respiratoriese infeksies en masels.

Die Horing van Afrika is die tuiste van ongeveer 115 miljoen mense. Somalië het die kleinste Christen- gemeenskap (0.3% belydende Christene), terwyl Kenia die grootste hoeveelheid Christene het (78%). Die Kerk in die streek kan ’n belangrike rol speel in die verspreiding van noodleniging en in die bemiddeling van vrede tussen mededingende veewagter-gemeenskappe.

Bid asseblief saam met ons vir die streek wat Somalië, Ethiopië, Kenia en Uganda insluit.

“Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ‘n dor en droë land, ’n land sonder water.” (Psalm 63:2)

Saam in Sy diens

Gigi Kotzé en Donnelly McCleland