28 September 2018
Die Kerkraad het tydens sy vergadering op 13 September die volgende besluit geneem:
Wanneer ons kontrak met ds. Jandré aan die einde van Mei 2019 ten einde loop, sal daar nie ‘n derde voltydse leraarspos geskep word nie. Die rede daarvoor is dat ons huidige finansiële posisie dit nie toelaat nie.
Ek kan u verseker dat hierdie besluit nie ligtelik geneem is nie. Die somme is gemaak en nagegaan, die saak is gedebatteer by die Fondse kommissie, by die Uitvoerende Kommissie en by die Kerkraad. Maar die realiteit is dat ons nie ‘n derde voltydse leraar kan bekostig nie.
Ek deel ‘n paar statistieke met u:
- Ons gemeente bestaan uit 700 besoekpunte.
- Van die 700 besoekpunte is 300 besoekpunte betrokke by ons gemeente-aktiwiteite. Net 300.
- Dit verteenwoordig 44% van ons lidmate.
Met ander woorde: meer as die helfte van die gemeente is glad nie betrokke nie.
Die uitdaging wat ons gemeente in die gesig staar, is onbetrokke lidmate. Dit is vir my hartseer om te sien hoe hierdie onbetrokkenheid ons kerk se bedrywighede op soveel terreine aan bande lê.
Wanneer ek verwys na betrokkenheid, praat ek nie net van geld nie. Ja, die Bybel vra dat ons finansieel betrokke moet wees by ons gemeente en daardie finansiële bydraes maak baie dinge moontlik, o.a.:
- Die geestelike versorging van ons lidmate (en dit sluit in dat ons ons leraars bemagtig om ons lidmate te versorg)
- Die versorging van ons gemeenskap
- En ook om ons Bybelse opdrag na te kom om die Goeie Boodskap verder te versprei – hier naby ons en tot aan die uithoeke van die wêreld.
Maar: betrokkenheid behels ook dat ons ons tyd en ons gawes diensbaar stel in die werk van die Here.
Kan ek ‘n laaste syfer met u deel? 75.
As 75 ekstra huishoudings in hierdie gemeente betrokke raak by hierdie gemeente, dan beroep ons ‘n derde leraar.
Dis ‘n ekstra 10% van ons lidmate.
Ek sluit af met ‘n kort video-greep wat vir ons iets wil leer oor samewerking: