16 Februarie 2021

Hallo liewe gemeentelede van De Eike, en veral ons ouers van 6 tot 12 jariges. Ek deel graag ‘n paar brokkies rakende die Kinderkerk.

Alhoewel ons nie weet wanneer ons weer normaal gaan kerk hou nie, moet ons tog gereed wees vir enige gebeurlikheid, en is ons tans hard aan die beplan vir 2021 se kinderkerk. Sodra die skool open, gaan ons voorlopig ook ons boodskappe aanlyn aanbied. Ek en Lize is in die proses om dit wat ons in persoon sou aanbied, ook aanlyn voor te berei vir die 6 tot 12 jariges, met dramatisering, rollespele en gepasde powerpoints. Natuurlik sal daar ‘n paar aanpassings gemaak word, maar ons beloof dat dit beslis leersaam, asook prettig sal wees. Eintlik kan die kleuterkerk mensies dit ook kyk. Die idee is dat ons kinders se ouers die boodskap saam met hulle kyk, wat hulle dan toerus om na die tyd met hul kinders te gesels oor die onderwerp van die dag.

Ons gaan een keer ‘n kwartaal ‘n geleentheid reël by die kerkgebou (ons sal die detail nog kommunikeer) waar die klasleiers ‘n aktiwiteitspakkie saamstel vir elke kind in haar klas, en die ouers dit by die kerk kan kom afhaal, met ‘n deurry geleentheid soos wat ons die kos op ‘n Dinsdag aflaai. Ons ouers kan dan na afloop van die video boodskap die aktiwiteit saam met hul kinders doen, wat ook aangepas is vir elke spesifieke ouderdom.

Ons beoog om die meeste elemente van ons erediens in te bring, ook ons projek. Ons sal selfs ons kers aansteek soos ons kinders gewoond is. En aan die einde van die boodskap sal daar beslis ‘n video wees met ‘n mooi kinderlied, waaraan die kinders kan deelneem.