31 Augustus 2017

Dis nou al geruime tyd dat ons gemeente by die mense van Nuwerus betrokke is. Dis ‘n ou klein dorpie in die die Karoo. Ek het dit gaan Google en die volgende antwoord gekry: “Nuwerus is a settlement in Matzikama Municipality, West Coast District in the Western Cape province of South Africa. Village 16 km south-east of Bitterfontein and 70 km north-west of Vanrhynsdorp. The name is Afrikaans and means ‘new rest’.” Dit lê op die N7 so halfpad tussen Vanrhynsdorp en Garies.

Nuwerus se gemeenskappie kry baie swaar. Werkloosheid lei tot moedeloosheid, en erge armoede. In die harde winters van daardie wêreld kry die mense veral baie swaar. Daarom het ons al baie warm klere ingesamel asook ander goedere wat mense daar kan gebruik, en dan gestuur vir die baie dankbare mense daar.

Ons praat al lankal oor die moontlikheid van ‘n jeug-uitreik, en vanjaar gaan dit eindelik realiseer! Ds Chris neem sy finalejaarsklas om die laaste naweek in Oktober te gaan gesig wys daar, en in sy woorde “met die mense van Nuwerus die liefde van die Here te gaan deel.” Die gedagte is dat ons gemeente so nie langer net anonieme skenkers vir hulle gaan bly nie, maar mense met gesigte en harte, en dat die kinders hulle gaan bemoedig in die geloof.

Dis hoeka daardie naweek basaartyd op Nuwerus, en Chris sien baie daarna uit om ook die Sondag die woord daar te gaan bedien. Die Saterdag is opsy gesit vir ‘n uitreik na die VGK Kinderbond in Nuwerus: Nuwerus se jongmense. Ons gaan saam speel en die liefde van Jesus met hulle deel.

Ek dink dit gaan ‘n enorme ervaring wees – vir Nuwerus se kinders, maar veral ook vir ons eie span. Ons wens hulle alle voorspoed en seën toe!

Ons gaan ook kans kry om daarby betrokke te raak en regtig daar ‘n verskil te maak. Maar daardie aap mag ek nie nou al uit die mou laat nie. Meer daaroor later!