4 September 2023

Piet Rootman, ds. Johan Morkel, Tillie van Tonder, Eben Uys

“Geluk is nie ‘n plek waar ‘n mens aankom nie, dit is ‘n manier van reis.”

 “Om te reis is nie waarna jy kyk nie, maar wat jy sien.” 

 

Vrydag 23 Junie: Hennie Rootman leen vir ons sy Toyota 2×4 dubbelkajuitbakkie.  Ek glo dit het baie gebed gekos om hom te laat besluit om dit te waag!  Dit kos pak om alles in, op en vas te kry.  Ds. Gerard en Piet strek en hang om die petrolkanne en kamptoerusting stewig op die drarak vas te maak. Die manne het besluit om nie ‘n sleepwa te haak nie. [Dit was een van die beste besluite wat geneem is!]  Ek neem foto’s met die geleende digitale kamera van Matthys Grobler.  Wat sal daar uitkom?  Wonder. [Terloops, ek het als geleen; van ‘n slaapsak, tot tent, opblaasmatras.  Wat weet ek nou ook van kamp af?  Het vir Annie Rabie gevra om my en my vrag kerk toe te neem.] Ds. Chris en Carina is ook daar, so ook ds. Hannes, Gerrie, Marietjie, Mariana, tannie Annie, Heidi, oom Cerneels, Elsabé [haar hart is baie seer; sy wou só graag saamgaan] en die manne se gesinne. Ds. Hannes stuur ons weg met skriflesing en gebed, tesame met almal se goeie wense. Gerrie/Marietjie gee vir ons Eksodus 23:20: “Ek, die Here, stuur ‘n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reggemaak het. Gee ag op die engel en luister na hom …”  Heidi pak vir ons genoeg kos in om die hele Mosambiek te voed, saam met ‘n spyskaart van wat om vir elke ete voor te berei.  Els leen vir ons ‘n lekker yskassie vir alles wat koud moet bly.  Ds. Johan loop trots met sy Springbokkêps en –serp en is vol spitsvondighede.  Dink natuurlik die bokke gaan oor die hane loop!  Wat ‘n ontnugtering wag nie! Manne het van die begin af besluit om nie te skeer nie.  Ons trek 11:30 en maak gou ‘n draai by ‘n bandeplek in Spek-en-Hampad. Om ± 12:00 vat ons die N1.

 

Ds. Johan is by Worcester al honger.  Voor De Doorns is ‘n padoponthoud en ons moet geduldig wees. Dis herfs by De Doorns en dis móói!  Eben leer Portugees en stuur Portugese sms’e Milange toe [Dis hier waar hulle die eerste snuf gekry het dat hy moontlik ook saamkom!]. Ons drink koffie in Laingsburg en ry 15:00 vandaar.  Ons kry kort-kort sms’e van meelewendes. Dis ‘n lieflike skoon sonskyndag en die Karoo is mooi na die reën. Waar kuddes waaigras huppel oor die veld, Waar ‘n mens nog vry kan asemhaal en aan ‘n God kan glo” … [Toon van den Heever].

 

Die son begin lang skaduwees maak en ons is nog nie by Beaufort-Wes nie.  Dit begin donker word en manne besluit om deur nag te ry.  20:00 Hanover, 23:45 Bloemfontein, gooi petrol in.  Ry N1, draai af Senekal, Bethlehem.  Dis donker, met slegte padverleggings en oponthoude.  Verby Brandfort, Vrede.  Moet sommige plekke inry en korrekte padaanduidings by polisiekantoor vra.  Dis sleg om vreemde paaie in die nag te ry.  Jy sou graag die landskap wou sien.  Dag begin breek tussen Standerton en Ermelo.  07:30 Ermelo-Wimpy.  Honger, ongeskeer, ongekam, ongewas.  Bestuur vriendelik, maar kos vetterig en nie baie lekker nie. Toilette onvoldoende. Was die koring bitter omdat ons moeg was? Seker maar. Nou Chrissiesmeer, Badplaas en deur passe af na Barberton.  Wat ‘n pragtige wêreld.  (Moet dáár wees waar die Uyse se voertuigwiel laas amper uitgeval het.) Ons ry téén tyd om voor 11:00 nog ‘n bank oop te kry vir geldruiling.  Maak dit nie.  Nou Nelspruit.  Vertoef hier sommer ‘n geruime tyd, want daar is dinge wat gereël en gekoop moet word.  Soek weer ‘n bank vir geldruiling, maar hulle raai Piet aan om in Komatipoort te probeer.  Nou Komatipoort.

 

Piet het gereël dat ons 10 km buite Komatipoort by ‘n kampplek langs die Krokodilrivier, Marloth Park (Makarios) oorslaap. Dis nog vroeg toe ons daar aankom, 15:15, en manne vra of hulle ASSEBLIEFTOG mag rugby kyk!  (En toe is dit so ‘n antiklimaks!)  Na rugby loop ons bietjie rond, neem foto’s, pak af.  Daar’s seekoeie in die rivier. ‘n Groot gerieflike huis met ‘n BREË stoep.  Elkeen het ‘n kamer en ons eet vir die eerste keer van ons eie kos.  En drink ‘n lekker koffietjie.  Eben, die kok en kelner, kom te voorskyn met heerlike kraakbeskuitjies en koue vleis.  Warm stort/bad.  Slaap.  Wonderlik.  Volgende oggend vroeg op; wil so gou moontlik by grenspos kom.  Geen water.  Vee net jou oë uit met dit wat nog in die ketel oor is.  06:20 op pad uit.  Dag lankal gebreek.  Gooi petrol in in Komatipoort en Piet onderhandel met 2 vroulike straat-geldhandelaars.  Net so verwoed as wat hy op sy rekenaartjie uitwerk, net so verwoed verduidelik die 2 dames hoeveel meticas vir ons rand teen hul geldkoers.  Nou’s ons elkeen skatryk.  ‘n Paar miljoen!  4 000 meticas = R1; afhangende van wisselkoers,  dalk 3 800 mtcs.

 

Nou vir die grenspos.  Dis snerpend koud, maar ons moet uitklim.  Binne ‘n ommesien het ‘n “entrepreneur” ons afgeskerm, vir Piet presies beduie hoe en watter vorms hy moet invul. Ons laat ons paspoorte stempel, Piet word beduie hoe hy moet ry om nie agter die lang toue vragmotors en taxi’s gestrand te raak nie.  Ons sit rustig, terwyl Piet al die “onderhandeling” doen.  Entrepreneur se fooi was die moeite werd.  Ons hoef nie af te pak nie, hoef niks te verklaar nie. Alles bo-op en binne-in is kamptoerusting, sê hy vir die Mos-grensbeamptes. Ons is deur die Mos-grens, net so, ongeskonde.  Wat ‘n verligting!  Ons is in Mosambiek!  Ons is so oorstelp, dat ons sommer aftrek om eers tot verhaal te kom.  Manne stuur sms’e uit, praat huis toe, eet, neem foto’s, korswel.  Vertoef te lank.  Pad Maputo toe baie goed, maar ons is BAIE versigtig vir spoedoortredings, want Johan en John het gewaarsku.  Jy moet vasgegordel wees en jy moet bedag wees op polisieversperrings.  En moenie aggressief wees nie. Tillie skrik haar lam toe sy ‘n beampte langs die pad sien en wil sommer aftrek!  Niks gebeur nie en ons haal Maputo sonder enige krisis.  Nou deur karre, fietse, mense, kinders, honde, bokke, pluimvee.  Dis ‘n ander wêreld.  Ons hou stil by stalletjies, kyk rond, verwonder ons, neem foto’s.  Koop lekker broodrolletjies.  “Hoenderslagplaas” se mense gil op ons toe ons probeer foto’s neem.  Seker gedink ons is inspekteurs wat hul wandade aan die kaak wil stel. Voel vreemd veilig, mense vriendelik, al is taal ‘n probleem.  Hier en daar iemand wat Engels kan verstaan en praat.   Sukkel om deur massa te kom en niemand en niks raak te ry nie.  Ry noord. Verwonder ons aan welige plantegroei. Padstandaard swakker in vergelyking met Maputo-pad van grens af, maar rybaar.  Hou kort-kort stil om foto’s te neem, koop kasjoeneute by padhandelaars (maar weet nie of hul ons inloop nie – koop te min).  Geldstelsel is nog vreemd.  Iewers koop Tillie vir haar ‘n capelana, later nog een.  Nou’s haar mond darem stil oor die stuk lap waaroor sy noual van Barberton af kerm!

 

Die dag loop aan en ons ry na Xai-Xai.  Pad horribaal sleg.  Uyse se foto’s word ‘n werklikheid!  “Potholes” van formaat.  Jy kan maar sê daar is nie regtig ‘n rybare oppervlakte nie.  Buitekant is beter as binnekant.  En dan moet jy steeds oppas vir voertuie van voor en mense en diere oor en langs pad.  Ons hou stil, neem foto’s; om te wys dat ons nie oordryf nie.  Bakkie sug en kreun.  Sy baas sou hom nooit aan soveel ontbering blootgestel het nie!  Op plekke is pad beter en kan ons vinniger vorder, maar dag loop skrikwekkend vinnig uit en ons weet nie regtig waar dit gaan donker word en ons sal moet oorslaap nie.  Ons beplan om te gaan tot by Inhambane of Maxixe, maar die donker vang ons, en ons weet nie hoe die pad is nie.  Nog 30 km Maxixe toe. Ons ry deur Lindela en Piet se oog vang ‘n “24 hour accommodation”-bordjie.  Weer die Engel wat vir ons besluit.  Piet besluit om terug te draai en te gaan verneem.  2 gerieflike oornaghuisies langs mekaar, met kwaliteitmateriaal gebou.  Egpaar van Pretoria, en vrou praat Afrikaans.  Haar man ‘n RSA-Portugees wat ook Afrikaans kan praat.  Plek se naam is Quinta de St António.  Vic & Adelaine. Pragtige opset.  Hul het ook ‘n winkeltjie langs die pad en nog 4 oornaghuise is in aanbou.  Dit is ‘n lieflike gerieflike oornagstop.  Ons het die huisie vir onsself, tot DSTV en SABC3-nuus.  Manne slaap op stapelbeddens en Tillie op die dubbelbed.  Ons gebruik die kole van ‘n egpaar van Pietersburg, op pad na Vilanculos (later verneem dat een van die uitreikspanne daar beroof is) in die ander oornagwoonstel, om ons plathoender te braai en eet heerlik onder die bome.  Dis niks koud nie en nog redelik vroeg.  Die vrou praat ‘n hond uit ‘n bos, asof sy ons jarre al ken.  3 Jack Russeltjies hou ons geselskap en eet hoenderbeentjies.  Later begin dit kouer word, met ligte druppeltjies. Lekker warm stort.  Nag klink dit of dit vreeslik reën, maar dit was net die wind deur die bome.  Oggend vroeg op, sodat ons 05:45 kan ry.

 

Dag het gebreek en ons vat die pad.  Pad min of meer soos vorige dag, met beter stukke tussenin.  Pad word deur Chinese gebou.  Ons word afgegooi op ‘n 2-spoorpaadjie met rooi stof.  Voor ons ‘n swaar brandstoflorrie wat 10 km/h ry; ons ry 2½  – 3 uur aan ± 27 – 30 km.  Iewers tik die Engel vir Piet op die skouer en hy hou stil.  Die agterste klap is oop, alles is onder rooi stof en sy tas met al die voertuigpapiere lê voor en net reg vir uitval!  Later weer terug op teerpad.  Die dag vorder en ons beplan om by Beira-kruising te gaan slaap, soos Johan vir ons aangeraai het.  By Beira-kruising begin dit skemer word en dis nog eintlik te vroeg om nou op te hou ry.  Ons het te veel tyd al op pad verspil en ons besluit om deur te stoot Caia toe, net duskant die Zambezi-pont.  John se aanwysigings dui daarop dat dit ‘n uitstekende stuk pad is, maar 300 km ver.  As ons goed ry, so 21:00 – 22:00 daar.  Ons gryp vinnig ‘n eetdingetjie in die donker en vat die pad.  John was reg; ‘n lieflike stuk pad met weerkaatsende liggies en ‘n duidelike wit streep in die middel.  Dit gaan voorspoedig teen 100 km/h.  Ons is jammer dis donker.  Die landskap is skynbaar baie mooi.  30 km voor Caia soek ons na James White se kampplek-afdraai aan die regterkant – ‘n aanwysingsbord teen ‘n boom.  Verspil ‘n goeie halfuur om heen en weer te soek, te lig, maar kry geen afdraai nie.  Later sou ons hoor dat die kampplek tjok en blok vol was, so … Die Engel het ons weer gelei.

 

Nou stoot ons maar deur Caia toe. John noem Caia Lodge, maar hy weet nie hoe dit is nie.  Ons ry op ‘n 2-spoorpaadjie tussen die bosse deur en hoop maar ons hoef nie die nag in die bakkie te slaap nie.  Dit was ‘n lang dag en almal is moeg.  Veral die 2 bestuurders.  Kom by die kampplek uit en hier ontmoet ons Joe van Pretoria, aan wie die plek behoort.  Ja, hy het vir ons 3 huisies, met warm stort en toiletgeriewe.  Dis 22:00 en hy kan nie meer vir ons aandete gee nie, maar belowe om die volgende oggend 06:45 vir ons ontbyt te laat maak.  Slaap lekker onder muskietnet.  Salig om jou kop te kan neerlê.  Dis donker.  Kragopwekker word afgeskakel.  Kan nie selfone laai nie.  Volgende oggend kry ons heerlike ontbyt, gemaak en gebring deur baie aanvallige en vriendelike Mos-vrou. Dit reën sagweg.  Ontmoet vir Barry Vorster en sy vrou, van Macuba.  Sy werk vir World Vision.  Hy raai ons aan om na die pont die langer pad via Quelimane na Milange te volg.  Johan het egter voorgestel dat ons die Morrumbala-pad neem.  Nou ry ons pont toe.  Dit reën.  Lang tou groot vragmotors wag al.  Pont is aan ander kant.  Terwyl ons wag, klim ek en Eben uit.  Daar moet foto’s geneem word, hoe dit ookal sal uitkom.  Modder, plasse water.  Trap die bakkie behoorlik vuil.  Sit onder die afdak en kyk hoe een na die ander voertuig kans kry om die pont te bestyg.  Uyse het gewaarsku: moenie te na aan die water waag nie, daar’s krokodille wat jou vang.  Ons sien geen krokodil nie en dis ook te triestig om enigsins na aan die water te beweeg.  Ons wag.  Uiteindelik is dit ons beurt.  Ons staan heel voor aan die regterkant, met ‘n groot vragmotor in die middel en Barry-hulle aan die linkerkant.  Kon nie sien hoeveel voertuie nog agter ons is nie.  Ons bevaar die pont!  Wat ‘n belewenis!  Dink onwillekeurig aan Johan wat al so baie stelle daar afgetrap het in die verlede.  Dis ‘n nuwe pont; die oue was baie kranklik en ongerieflik.  Hy’s sleg behandel omdat hy wit is, moes agter in tou inval, baie nagte voor die pont oorslaap, in somer op sy bakkie se dak saam met al die muskiete.  Ds. Danie ook in verlede skade gekry met sy swaargelaaide sleepwa; amper in rivier beland.  Nou is situasie baie beter en oorgaantyd sommer baie verkort.  Voertuie met neuse na voor en kan net afry. In verlede moes voertuie tru.  Jy betaal jou fooi op pont. Ons is so gelukkig!  Nou besluit ons op Morrumbala-pad, soos Johan aanbeveel het.  300 km grondpad.  En hier begin die sports.  Eerste stuk glad nie sleg nie en reën demp net die stof.  Piet is aan die stuur en behendig swenk en swaai hy tussen mense, kinders, swaargelaaide fietse, honde, hoenders, tarentale en bokke deur.  Alles en almal dop uit hoë grasse langs die pad en die toeter werk oortyd.  Piet waai vir almal en hulle waai net so ywerig terug. Hutte is langs die pad tussen die ruie bosse. Ons ry voorspoedig, maar op plekke is pad baie sinkplaat en swaai jy uit vir ‘n gat, kan jy maklik iemand/iets raakry.  Fietse het nie remme nie, want remskoene nie beskikbaar; moet balanseer so goed moontlik.  Swaar vragte op fietse vasgemaak – hoenders aan pote, onderstebo, bokke/varke op bagasierak (dieremishandeling!?); beddens, sakke mielies, gerwe riete, enigiets wat vervoer moet word.  Dis opdraand stoot en afdraand klou.  En wanneer bakkie dan al toetende naderkom, sommer die walle af.  Het die manne dit nou nie geniet nie!  Op ‘n plek ‘n groot vragmotor gesien met ‘n vrag dik boomstompe, en bo-op die stompe oral bokke vasgemaak.  So ry ons vir die grootste deel van die dag.  Dis ver.

 

Ons haal Milange seker so 16:45 en dit begin skemer word.  Ek het gedink ons kom nooit daar nie.  Uyse het self uitgepluis dat Eben ook saam is.  Sy Portugese sms’e na hulle het sy “game” weggegee; en hulle kon met sms’e bepaal dat hy nie op die lug is nie.  So, al die opwinding van ‘n groot verrassing daarmee heen!  Dis wonderlik om hulle te sien!  Milange se krag is af.  Murrays se huis word verbreek en verbou en niemand kan daar oornag nie.  Klomp tente buite op gras tussen huise – Calvinia en Springbok is nog op pad.  Bergsig alreeds daar.  En ons ook nog, wat nie saam met Uyse in hul woonwa kan in nie!  Party slaap by Danny Martin, die dokter.  Sy vrou, Hannelore, en 2 seuns, terug Argentinië toe. Stephanie en John se huis ‘n hotel – altyd kos, slaap-/toilet-/stortfasiliteite vir almal.  Onbegryplik hoe hul dit hanteer. Ons net klaar geëet en slaapplek vir nag gekry, toe kom Calvinia en Springbok.  Eersgenoemde oorwegend ‘n klomp jongmense.  Die hotel word weer oopgestel en kos word weer van vooraf berei.  Dit jil en gesels tot watter tyd, en almal moet eet en deur storte en toilette gaan om elkeen ‘n rusplek vir die nag te kry.  Chaos!  Almal is moeg, en dit reën.  Word jy wakker, lê en luister jy na die drup-drup van die geute.  Die tente lek.  2 manne s’n darem droog.  Hoe besiger om Stephanie, hoe meer geniet sy dit.  Vir hul doodnatuurlik.  Sy sê dinge moet om haar gebeur.  Dit hou haar aan die gang.  Daar moenie ‘n “leef”stilstand wees nie.

 

Volgende oggend is ons maar vroeg op, om klaar te maak vir plaas toe gaan. Uyse moet inpak en woonwa toesluit. Johan se sleepwa swaar gelaai – drinkwaterkanne, toerusting en implemente van Adriaan Jacobs, siviele ingenieur van Piketberg, wat vooruit saam met Calvinia gekom het om waterstelsel op plaas solank aan die gang te kry en te bepaal wat sy groep nog moet bring.  Dis nat, triestig, modderig.  Alles word vuil getrap.  Niemand het juis diep, rustig en lank genoeg geslaap nie.  Ons eet ontbyt.  Stephanie roer aan ‘n pot pap vir ‘n hele leërskare.  Ons kom weg, seker so middel-oggend.  Nou eers dorp toe na stalletjies om voorraad te koop – groente, broodjies, rys, meel, eiers.  Tillie moet haar capelana omknoop.  Dis vir Anette belangrik dat ek dit so doen. Loop rond, kyk, verwonder.  Johan haastig, wil plaas toe.  Anette wil ons alles wys.  Foto’s.  Kom seker eers 12:00 weg.  Nou 85 – 90 km terug met ‘n ander grondpad as waarmee ons die vorige aand gekom het – 2½ na 3 uur se ry.  Anette ry by ons en gee kommentaar oor plantegroei.  Hulle ken ook nog nie al die bome nie.  Kiaatbome word uitgewys.  Dis ruig!  Sy wys vir ons kassawe- en boontjiebome uit.  Die Engelse woordeboek beskryf eersgenoemde so: tropical plant with starchy roots; starch or flour from this, used e.g. in tapioca. Dit lyk soos klein patats. En waar ons patat en boontjies op die grond rank, word hierdie bome redelik hoog, menslengte en hoër. Volgens Anette het die boontjie nie ‘n naam nie; tipe suikerboon. Eindelik draai ons af en ry 5 – 6 km tot by ‘n verdere afdraai na die plaas.  Laasgenoemde paadjie wat Johan en Zachariah self gemaak het, met ompaaie daar waar Johan telkens in die modder vassit en hom moet uit”winch”.  Tillie wil nou nie ‘n stok in die wiel steek nie, maar wens Johan wil vassit sodat ons die petalje kan aanskou.  Haar wens was nog nie koud nie, toe draai sleepwa skeef en een wiel kantel.  Johan sit.  Maar soos jy kon sê mes het hy die kabel om ‘n boom vasgemaak en bakkie en sleepwa uitgetrek.  So maklik.  Hoe groter die uitdaging, hoe lekkerder vir hom.  Ons ry dieper die woud in.  Dit reën.  Hoë bome maak ‘n blaredak.

 

Uiteindelik PLAAS – 4½ dae se ry!  Blink van sinkdakke.  Pastoor Zachariah Pedro, ouderling, gemeentelede en kinders kom groet, saam met hond, bokke en kalkoen, en later sy vrou Efriede.  Hy praat Engels, Portugees en Chechewa vlot.  Baie innemende en briljante man.  Sy praat Chechewa en bietjie Portugees.  Anette praat sommer al lekker Portugees met haar! Tillie moet sorg dat haar capelana stewig vasgeknoop is.  Dis belangrik dat sy dit hier op die plaas pal dra. [Was toe ook een van die “minor” probleme. Het glad nie gepla nie. Draai dit om langbroek en knoop in die sy.] Ons begin afpak, manne slaan tente op op ‘n groot oop stuk tussen die bome wat Zachariah-hulle intussen ontbos het.  Dit reën en dis triestig, maar nie regtig koud nie.  Bome maak net so hier en daar bo oop.  Hoog en ruig.  Johan het vir uitreikspanne se gebruik rietafskortings gemaak rondom “long drop”-toilet en stortgeriewe. ‘n Paraffiendrom is platgegooi en heeldag word daaronder vuurgemaak vir warm water.  Hy voorsien een stortsak, wat jy aan ‘n dwarsriet haak.  Jy maak dit tot bo vol water, so warm as wat jy dit wil hê, hang dit op en …. weelde in die bos!   Draai kraantjie net genoegsaam oop, maak jou nat, draai toe, smeer seep, en draai weer oop om af te spoel.  Jy staan en staan; die water hou nie op loop nie!  Ons eet (van) ons eie kos by Uyse en een aand braai Piet ‘n vleisie en vra Pedro’s om saam te eet.  Dit begin 16:45 skemer word – braai met kopligte.  Soggens eet ons heerlike mieliepap, eiers, Milange-broodjies, en koffie.  Adriaan spring sommer dadelik aan die werk. Van die vore is alreeds gegrawe vir die pype om in te lê.  Mooi gedoen, randjies netjies afgesteek. Hy en Johan sit koppe bymekaar, wissel gedagtes, argumenteer, kom tot ‘n vergelyk.  Dis die 26-jarige se kennis teenoor die 50-jarige se ondervinding.  Saam maak hul ‘n gedugte span.  Johan se brein is altyd besig om “schemes” uit te werk.  Die manne wil van Anette weet of hy darem snags tot ruste kom.  Hy skakel nooit af nie.   Hulle is so oorstelp dat ons daar is – nou voel hulle vir die eerste keer ook deel van De Eike … en hulle is so bly dat ons vir Eben saamgebring het.  Dit wys dat ons ook vir hulle geliefdes omgee.  Ds. Johan hou elke oggend vir ons godsdiens uit Jakobus, ook op pad.

 

Donderdagoggend vergader ons saam met Zac in sy huis.  Ons luister na gesamentlike probleme ten opsigte van die projek, asook probleme en ongelukkighede wat Zachariah, as ‘n boorling van Tete, met die Tumbine Sinode het.  Hy word nie meer as ‘n pastoor deur die sinode befonds nie, aangesien hy nie meer ‘n “congregation” het nie.  Hy word benadeel en as minderwaardig geag.  Dis sleg en hy’s hartseer.  Van 2004 af het hy swaargekry wat befondsing aanbetref.  Op ‘n stadium het hy géén befondsing gekry nie.  Hoe kan ‘n mens leef en oorleef sonder geld? Genadiglik is daar nou weer ‘n RSA-gemeente wat hom maandeliks befonds.  Finansieel sien hy nie kans om sy en Efriede se familie en vriende in Tete te gaan besoek nie.  Hulle verlang en was so lank gelede by die huis.  Daar op die plaas is sy vrou en kinders alleen.  Die landbouprojek het nog nie aan die gang gekom nie. Wat vorentoe? Johan het persoonlike ongelukkighede.  Hy moes in aller haas die plek waar hul hul goedere in Milange gestoor het, ontruim.  Waarheen moes hy dit neem?  Plaas toe?  Die huis was halfpad, onklaar.  Hul moes die Thiarts se trek Quionga toe vervoer, wat ‘n groot hap gevat het uit die werksaamhede op die plaas.  Hy is baie bitter.  Maar hulle is dankbaar om op die plaas te wees en daar te woon.  Al is daar nog geen water in die huis nie, of kaste, of ruite in al die vensters nie, of finale verfafwerking, is dit hemel op aarde om spasie rondom hul te hê, en rustigheid.  Dis nie ‘n grap om vir amper 2 jaar in ‘n beknopte woonwa tussen ander huise opgehok te woon nie.  Nou kan hul asemhaal.

 

Ja, hul sal daar kan aanpas en ingrawe.  Van al die sendelinge is hul geestelik en emosioneel die beste toegerus om onder sulke omstandighede te oorleef en ‘n sukses daarvan te maak. Het hul dan nie eiehandig ‘n plaas naby Karasburg opgebou nie? Pioniers op baie gebiede. Hy het vir Anette ‘n spensie met rakke ingebou en teen die een kant van die rakke het hy sporte gemaak waarteen hy opklim na die solder.  Groot oop spasie, met ‘n spitsdak, waar hy al sy toerusting stoor en wat in toekoms ‘n gesogte slaapplek kan word.  Op die oomblik is hul ablusiegeriewe nie veel anders as die uitreikspanne s’n nie, maar die stort is “en suite”, vir wanneer water aangelê is.  Met tyd sal hul huisie ‘n welkome, gerieflike hawe wees.  Waar Uyse net 1 slaapkamer het, het Zac se huis 2 slaapkamers, omdat hy 2 kinders het.  Hul kookgeriewe is losstaande van die huis, waar die Uyse s’n deel van die huis is.  Zac se ligging van huis is effens teen die skuinste, waar Johan-hulle s’n meer gelyk staan.  Zac het ‘n stoepie voor, wat die Uyse nie het nie.  Op die oog af lyk dit of die 2 gesinne goed saamwoon, as Efriede net daarin kan slaag om die bokke uit die Uyse se gebied te hou.  In sy vorige nuusbrief het Johan gewonder waarom al die diere in sy tuin wil kom wei – is dit uittarting of bekoring? Johan het ‘n sonpaneel hoog in ‘n boom geïnstalleer, wat hul saans van ‘n helder lig voorsien. Saans kom loer ‘n spierwit akkedis wat ons alles doen. Sit doodstil by die lig en bespied die wêreld.  Verder gebruik hul gas vir kookdoeleindes.  Hy het ook vir ons ‘n buislig by die ablusiegeriewe geplaas.  Verder loop jy maar deur die ruie bosse en hoop jy trap nie op ‘n ongedierte nie.  Ons het gehoor daar is ‘n luislang iewers, wat al van Zac se diere gevang het.  Met die afslaan van die tente het ds. Johan op ‘n handgrootte spinnekop afgekom, wat ook wou sien wat ons doen.  In die stilte van die nag hou jy asem op vir elke geluid, en lig maar met die flitsie of niks in jou tent ingekruip (ingeseil) het nie.  Dalk het luislang ook kom kyk of hy nie inkomplek kan kry nie.  Anette wys watter bome Zac en ander al daar geplant het – pynappel, avokado, piesang, papaja. Party groei beter as ander, maar as dit eers vat, sal daaraan nie keer wees nie.  Jy moet mooi kyk om dit tussen die ruie plantegroei raak te sien.

 

Ja, die Here se genade was groot, en ook elke dag vir hulle wat daar moet woon.  Dit het baie harde werk gekos om daai 2 huise staan te maak.  Johan het al die boumateriaal van Milange af met sy sleepwa aangery.  Hoeveel keer moes hy die stuk pad aandurf?  Hoeveel brandstof het hy uitgery?  Slytasie op sy voertuig?  Hoe alleen het hy nie gevoel nie, so asof niemand omgee nie.  Maand vir maand. Dag vir dag.  Dit wil gedoen wees. Aanvanklik het hul net R5 000 gehad.  Met donasies was die totale oprigtingskoste R32 000 vir die 2 huise.

 

Dis stil daar tussen die bome, baie stil.  Soggens kraai Zac se hoenderhaan jou al 03:45 wakker, en dan weergalm dit.  Een nag ‘n onaardse geskreeu gehoor, soos ‘n man wat se keel bietjie vir bietjie afgesny word.  Skrikwekkend.  Volgens Johan moet dit ‘n aap of ding wees.  “Diep, diep in die bosse van ‘n vergete land.”  Koos Doep?  En dis groot slakke wat daar loop – skulp so groot soos party seeskulpe.  Alles is daar groot en in die oortreffende trap.  Die Saterdagaand voor ons trugtog het hulle in die lig van die flits gesien hoe ‘n yslike tak van ‘n boom afskeur en die aarde tref.  Dit het geklink soos ‘n kanonskoot.  As so ‘n tak, of boom, op die mense of huise moet val ….  Ons het heerlike soet papajas by die indraai na die plaas gekry.  Eienaar wou nie geld daarvoor hê nie.  Dit val sommer net af en lê op die grond.  Daarvan het ons, saam met ander vrugte, heerlike vrugteslaai gemaak vir ons laaste ete saam met hulle.  Efriede het ‘n pot rys gekook en Anette het ‘n hoender met ‘n l-a-n-g sous gemaak.  Almal het heerlik weggelê.  Ons het nooit honger gely nie.  Daar was genoeg kos, altyd.  En 5 manne kan gesond eet!  Adriaan het gesê normaalweg eet hy nie so baie nie en sy ma sal haar doodskaam vir hom, maar tannie, dit is regtig baie lekker. Jammer dat Anette se kombuis dit moes ontgeld.  Die idee was dat hulle by ons eet, maar dinge het anders uitgewerk as beplan.  Ons glo dat met Piketberg se 11 mense, die situasie anders kan wees.  Die oggend na die vergadering het almal, saam met besoekende 2 manne van Bergsig en ‘n man van Calvinia, saam met Johan en Zac na die landbougrond gaan kyk.  [Die tegniese sy hiervan moet maar deur die manne ingevul word.  Piet het foto’s geneem.]  Wat vir my as leek opgeval het, was dat die plantegroei so dig en welig groei dat landerye onmoontlik met hande-arbeid bewerk kan word. Implemente is ‘n noodsaaklikheid.  Nou besef ‘n mens dat die Mosambiekers geen ander opsie het as om die landerye na die oesseisoen af te brand nie.

 

Sondagoggend – vertrekdatum: Zac wil hê ons moet saam kerk toe gaan.  Hy wil ons aan die gemeente voorstel en hy vra dat ds. Johan sal preek.  Hy sal tolk.  Aanvanklik het die manne verneem of, gesien dat ons nog die betrokke dag deur die grenspos wou gaan (hul het besluit om Malawi/Mos/Zim terug te ry), die verrigtinge nie so aangepas kan word dat ons vroeër kan wegkom nie.  Zac het nie ja of nee gesê nie en hul het dit daar gelos.  Die kerk het 10:00 begin.  Normaalweg ry die Uyse tot by die ouderling se huis en stap dan saam met hom die laaste deel kerk toe.  Hierdie oggend het hul besluit om te ry tot by die kerk, om tyd te spaar.  Hier kom ons 7 blankes by die kerkie aan.  ‘n Oop rietdakstruktuur langs die pad.  Netjies, met lang bankies.  Die mense kom streep-streep aan en die kore sing alreeds.  Kinders hardloop heen en weer. Ek merk op hoe skoon en netjies die 2 Pedro-kinders is teenoor die ander.  [Nog iets wat opvallend is soos ons ry, is die baie jong meisies wat met kinders loop.  Of dis kinders wat hulle namens iemand oppas, of dis hul eie.  Skrikwekkend!] Die eerste deel van die verrigtinge word in beslag geneem deur 3 kore wat met ritmiese bewegings vorentoe kom en hul liedere sing.  Let wel, liedere, nie net een of twee liedjies nie. Pragtig. Sonder enige begeleiding.  Nie oorverdowend nie, maar suiwer en in totale harmonie.  Verskeie dirigente kom staan voor.  Dan beweeg hulle weer met dieselfde ritmiese bewegings terug na hul sitplekke.  Aandoenlik.  Ek verwonder my, en is terselfdertyd baie emosioneel.  Efriede, Zac en nog ‘n man sing in trio saam. En toe Zac vir ds. Johan aan die woord stel en die gemeente inlig waar ons vandaan kom en hoekom ons daar is, loop my trane.  Ds. Johan preek in Engels en lees Eksodus 23:20.  Hy vertel dat ‘n lid van ons gemeente ons met die vers weggestuur het en hoe die Engel ons tot dusver op die pad begelei het.  Zac tolk.  Hierna word ons vorentoe geroep en bekend gestel.  Toe’t ons besef dat die verrigtinge nie aangepas kon word nie, en ons sou dit ook nie anders wou hê nie.  Dis amper 12:00.

 

Ons groet en ry.  Ewe skielik is die uitreik verby en ons moet hulle agterlaat.  Ons moet maar redelik styf groet, want daai mense ken nie van soen en druk nie.  Dis niks lekker nie.  Johan is hartseer, ek is hartseer.  Eben besluit om by pa en ma te bly en later met bus of vliegtuig terug te gaan.  Ons kry op pad die 3 voertuie van Bergsig.  Hul gaan terug soos hul gekom het, oor die pont, af Maputo toe.  (Het later verneem dat een van die vrouens ‘n hoë koors ontwikkel het, wat egpaar genoop het om 3 dae langer in Mos te vertoef.  Dit was toe nie malaria nie, maar ‘n spinnekop wat haar gebyt het.  Maar dit eers in Pretoria kon uitvind. En dat die res van die groep ‘n paar sekondes betyds was om die aand laaste oor die pont te gaan.)  Kom op etenstyd in Milange aan.  Nou’s ons haastig en hap gou iets by Stephanie, want sy dring daarop aan.  Ons groet.  Nou vinnig petrol ingooi en dan Malawi-grenspos toe.  By petrolpomp laat wag die Indiër ons vir ‘n volle halfuur, terwyl hy die toilet besoek!  Toe ons by grenspos kom en Piet sy paspoort soek, kom hy tot die ontstellende ontdekking dat Eben per abuis die oggend die verkeerde paspoort uit die paneelkissie gehaal het, sonder om te kyk.  Vir geen geld ter wêreld sal die beamptes vir Piet op Eben se paspoort deurlaat nie!  Wat sou gebeur het as ons sou besluit om weer die Maputo-pad te neem, om dáár uit te vind die paspoort is verkeerd????!!! Genade, genade van die Here.

 

Nou moet ons terugry plaas toe.  Kom 14:45 terug op sendingstasie en nou weer amper 3 uur se ry terug.  2 mense op plaas asvaal geskrik toe ons daar stop.  Is heeltemal sprakeloos.  Ons moes dan nou al vergete deur grens gewees het!  Sou die nag in Tete by Riaan Terblanche, sendeling, gaan slaap het.  Ons sal nie weet nie, dalk het Johan meer as een gevleuelde woord teenoor Eben gespreek.  Ons ry terug en die son gaan lieflik onder.  Ons kry die man in die rystoel met heen en terug langs die pad. Ek sou so graag wou hê Piet moes by hom stilhou. Ek wou met hom praat, ‘n foto neem, maar ek glo hy kan nie Engels praat nie. Hoekom was dit die Here se wil dat ons die oponthoud moet hê?  Ons kom 19:30 bedroë op Milange aan en moet noodgedwonge weer daar oorslaap. [Manne weer in die tent en ek by Stephanie in kamer by Annette Erasmus van Plumstead, rondreisende onderwyseres wat daar is om die Murrays se kinders te onderrig.] Ons val maar in by hul godsdiensverrigtinge, met musiek en sang, maar ek is op, op, en hoor net so nou en dan iets.

 

Maandagoggend val ons 05:45 in die pad grens toe.  Ons gaan sonder probleme deur, met die regte paspoort!  Gert Mostert van Springbok (O’Kiep) ry saam Blantyre-lughawe toe.  Is so bly ons kan hom oplaai.  Sou op sendelinge aangewese wees om hom deur te neem.  Met die deurtog deur 2 grensposte en 100 km rit Blantyre toe, glo ek dat hulle wegskram daarvan om onnodige ritte te ry. Ds. Danie eers gesê hy sal hom neem, toe Alta, toe uiteindelik kom ons! Hy vlieg 11:00 terug RSA toe.  Het dit ontsien om die lang pad saam met sy span terug te ry.  Interessante man.

 

Malawi baie mooi land, met bewerkte teeplantasies sover oog kan sien.  Pad is goed.  Ek verwonder my aan die rotsformasies.  So indrukwekkend.  Nou weer terug in Mos.  Jy kom onmiddellik die verskil agter.  Ewe skielik moet jy weer “obrigado” = baie dankie, en “bomdia” = goeie môre.  Uitgespreek “bondia”, met die klem op die i.  Pad is weer ellendig sleg.  Ons bereik Tete, maar besluit om nie vir Riaan op te soek nie.  Ry heen en weer vir petrol. Ewe skielik is die petrol op en hul kan nie ons kanne volmaak nie, maar net so skielik kom die Engel weer tot ons redding, deurdat ‘n petroltenkwa toe net met ‘n nuwe vrag opdaag. Kry ‘n CY & CJ voertuig by pompe. Hul is op pad na die Malawimeer. Ook ‘n groep jong sendelinge van Stellenbosch.  Die wêreld is so klein.  By die Malawi-grenspos vanaf Milange kry ons weer ‘n buitelandse egpaar wat vir 3 jaar in Kaapstad gewoon het en nou in Milange gestasioneer is.  Dis broeiend warm in Tete en ek wonder waar ons die winter agtergelaat het.  Dis weer ‘n gesukkel om geld getrek te kry, maar ek en Piet trek met ons visakaarte sommer miljoene meticas!  My 3 miljoen meticas = R825.  Nou het ons nog niks vir onsself of ons mense gekoop nie.  Bakke, potjies, wat ookal.  Iewers by ‘n grenspos val die jong manne ons toe met bakke en gekerfde houtartikels van enige aard.  Ek dink dit was uitgaan Malawi, in Mos.  Ons is heel oorbluf.  Almal praat tegelyk en druk hul ware in jou gesig.  Ons koop en betaal.  Hulle vra vir RSA rande, maar wil nie silwer hê nie.  Ek dink ons het lekker “bargains” gekoop. Skielik staan daar ‘n beampte langs ons en sê dis onwettig om op daardie punt artikels te koop.  Hy beveel ons om dit terug te gee en ons geld terug te vra.  Die jongklomp weier; steur hul nie juis vreeslik aan die beampte nie.  Ons behou ons ware, maar mag dit eers in die stukkie niemandsland tussen die 2 grensposte in die bakkie laai.  Ons ry.

 

Dit word vir ons aand en is te laat vir die grenspos na Zim.  Soek slaapplek.  Kom by Hotel Guida uit.  Een van die beter akkommodasieplekke, sê hulle. Ja, hul het slaapplek, maar wil nie vir ons aandete gee nie.  Ek is moeg, manne drink bier.  My kamerdeur se slot so stukkend dat jy dit beswaarlik oopgesluit kry.  Darem ‘n stort, wasbak en toilet, maar geen warm water nie.  Later gehoor apparaatjie aan stortkop wat water warm maak.  Het nie gebodder nie.  Skoon beddegoed.  Slaap.  Volgende oggend weer 05:45 weg.  Ek drink die 2de laaste antibiotikapil op my nugtermaag agv gebrek aan ontbyt.  (Het op die plaas ‘n yslike seer keel ontwikkel en Anette het my aangeraai om antibiotika te drink sodat dit nie verder gaan nie.)  Naar.  Dis donker in die gang, my goed is swaar en my flits het die gees gegaf. Ons ry.  By elke grenspos vra hul ander vrae om op vorms in te vul.  Vra ons residensiële adres, maar ek skryf net “Kuilsrivier, RSA”.  Wat wil hul met meer detail maak? En, vra die vrou my, sou sy nou vir my ‘n brief skryf, dink ek die posstuk sal by my uitkom?  Buite swaai apies in die bome, van een tak na ‘n ander balanseer hulle.  Ek vergaap my.  Groot vragmotors vol koring, toegegooi onder dik seile, staan agtermekaar geparkeer.  A!  Aap se kind weet waar om kos te kry.  Sak op die vragte toe en steek die handjies deur die seilopeninge in.  Eet te heerlik.  Ons mag nie foto’s neem nie!  Zim baie mooi land, maar ons sien nie baie bewerkte landerye nie.  Goeie pad.  Manjifieke rotskoppe.  Dag loop aan.  Hier sien jy omtrent niemand wat fietsry nie. Almal stap.  En jy moet bedag wees vir beeste oor pad.  Maar daar is genoeg borde om jou aandag op beesoorgange te vestig.  Jy kan nie sê jy’t nie geweet nie. Ek maak vir ons broodjies met ham en kaas.  Later nog vir die manne. Ons vertoef in ‘n dorpie en soek na ‘n bank wat ons meticas kan omskakel na Zim-dollars.  Nee, niemand stel belang nie.  Piet gaan by ‘n kroeg in en vra of hulle nie dalk Mos-kliënte het nie.  Hulle stuur hom na die markie.  Intussen soek ek en ds. Johan ‘n plek om koffie te drink.  Ja, by Hotel Victoria.  Van dieselfde standaard as die plek waar ons die vorige nag geslaap het.  2 baie mooi, ordentlike jong dames wat lekker gesels.  Piet kom in en sit ‘n pak dollarnote voor my neer, so groot soos ‘n kg botter!  Ongelooflik!  Ons vra of hulle vir ons koffie kan bedien.  Ja, dit sal 10 minute neem.  Ons wag.  Bring vir ons koppies sonder pierings, 2 teelepels, blikkie koffie en warm! melk. Warmwaterketel het nie ‘n handvatsel nie. Maar hulle diens is goed onder omstandighede en ons gee hulle van die kg botter-dollars. Buite op die sypaadjie loop 2 blindes en sing.  Ook hulle kry ‘n paar dollars.  Dit is nie veel werd nie. Ons ry. Die dag loop.  Iewers kom Piet agter dat die kanne petrol agtertoe geskuif het en amper agter oorhang. Weer die Engel. Hou weer stil by houtprodukte langs die pad.  Baie mooi, maar ek stel net in bakke belang. Ons bereik die grens seker so by 16:00 se kant, ‘n bietjie vroeër miskien, en die manne se “spirits” is hoog.  Amper, amper deur en in RSA.  Laaste 2 grensposte.  Beamptes word aangesteek deur Piet se spontaneïteit en opregtheid.  Beampte by SA-grenspos praat met Piet Afrikaans en Piet dreig om vir hom ‘n Stormers-hempie te stuur!  Dis ‘n gekorswel van ‘n ander aard.

 

Beitbrug.  Ons is deur.  Ons is terug.  Ons rit tot sover was voorspoedig.  Ons sms huis toe om te sê ons is deur en dat ons beplan om dwarsdeur die nag te ry.  Ons vat die N1.  Messina, Louis Trichardt, Pietersburg, Pretoria, Johannesburg, Bloem.  Dit word aand, dit word nag, ons ry.  Ry so uurliks, slaap.  Kan nie meer onthou waar dit vir ons lig geword het nie.  Koop iewers in die Karoo heerlike droë vrugte by Rietfontein.  Nou sms die mense, bel.

 

Ons bereik die kerk so 15:00.  Moeg.  Ek hoor ek lyk nie te goed nie.  Asvaal.  Ek is vodde.  Pieter Grobler kom my haal, sodat hy ook sommer kan kyk dat die regte tentmateriaal wat ek van hom geleen het, ingelaai word.  Wat ‘n enorme stuk pad. Seker so 7 800 km gery. Wat ‘n onbeskryflike ondervinding.  Nou wéét ons.  Ons was daar, ons het gesien, ervaar, meegeleef.  Nooit sal die projek meer vir ons net daar ver, vaag, wees nie.  Ons kan in ons gedagtes terugloop op elke stukkie pad wat ons gery het, elke stukkie lag, gekorswel,  verwondering, mense wat ons ontmoet het, elke boom waaraan ons gevat het, waarna ons opgekyk het, elke gesprek wat ons gevoer het, alles wat ons gehoor, gesien en beleef het.  Alles is werklik, De Eike.  Nou meer werklik as ooit.  Sela, tot die volgende uitreik wat julle vir 2007 beplan.  Gegroet.  Ek sal nie weer ry nie.  Vlieg miskien.

 

Vrydag 14 Julie 2006

11:37