15 November 2019
Op Donderdag 14 November om 09:00 het 34 opgewonde senior burgers per bus na Spice Route buite die Paarl vertrek. As gevolg van padwerke het ons baie stadig gevorder maar uiteindelik by ons bestemming aangekom. Ons het met die aankomslag afgespreek om mekaar 14:00 weer by die bus te kry.
Spice Route het soveel om te bied. Die seniors het binne oomblikke in verskillende rigtings uitbeweeg – elkeen na sy/haar beoogde bestemming! Sommige het gaan roomys proe, ander het na die sjokolade proe gegaan en nog ander het gaan kyk hoedat die mooiste vase en beelde van warm glas gevorm word. Ek en ‘n paar ander het besluit om die bier-proe te gaan doen. Dit was vir elkeen van ons ‘n belewenis. Die dame wat die proe aangebied het, was uitstekend! Toe ons omtrent klaar met die proe was, het die bestuurder van die bierbrouery daar aangekom. Hy het aangebied om ons deur die bier-kelder te neem.
Hy het vertel hoedat hy die C B C bierbrouery met 70 plaaslike mense begin het. Hy het hulle basiese dinge van netheid en higiëne in die kelder geleer en was bereid om alles saam met hulle te doen. Hy plaas ‘n baie hoë premie op goeie waardes en goeie verhoudings onder sy werksmense asook tussen hom en sy werkers. Dis ongelooflik hoedat hy ‘n byna familie-atmosfeer geskep het en uitstaande diens van sy mense kry. Sy storie het regtig vir ons almal hoop gegee! Daarvandaan is ons na die pizza restaurant. Orals langs die pad het ons seniors gekry wat of by ander restaurante aangesit het of sommer net lekker op die gras uitgespan en die mooi uitsig geniet het. Ons het almal baie lekker geëet terwyl ons buite sit en die mooi Bolandse berge om ons sien met ‘n uitsig wat uitstrek tot by Durbanville – ons kon selfs Tafelberg in die verte sien!
Teen 14:00 was almal terug in die bus en dit eens dat hierdie laaste uitstappie van 2019 ‘n groot sukses was. Ek het heelparty seniors hoor sê hulle wil graag hul families ook laat deel in dié ondervinding! Net een waarskuwing: Spice Route is blykbaar baie vol oor naweke. As jy dus oorweeg om jou mense hierheen te bring, probeer dit in die week doen of vroeg op ‘n naweeksoggend.
Johan Morkel