24 Mei 2018

Wil jy gelukkig wees? Wil jy saam met ander God vereer tydens die erediens?

 Sluit aan by De Eike se kerkkoor! ’n Koor wat met elke oefening en uitvoering musikaal en ook geestelik geïnspireer word.

Navorsing van die afgelope paar jaar het bewys wat al die lede van skool- en kerk- en musiekgroepe en bands al lankal weet: As jy gelukkig wil wees, moet jy by ’n koor of musiekgroep aansluit. Dit is die perfekte voorbeeld van waar die geheel (julle groep se klank) groter is as die som van die dele.

Het jy geweet van die volgende navorsing?

  • Na 90 minute van repetisie is koorlede se bloeddruk laer as aan die begin van die oefening. (Oliver Burkeman The Guardian, 18 Desember 2015. “Want to be happy? Join a choir.”)
  • Terwyl jy sing, versterk jy jou nekspiere en, volgens onlangse navorsing, kan dit help om jou sowaar minder te laat snork. (Alise Ojay: “Singing Exercises Improve Sleepiness and Frequency of Snoring among Snorers ? A Randomised Controlled Trial”, 11 April 2017.)
  • Onlangse navorsing in Ierland en in Nieu-Seeland het bewys dat koorsang ’n mens se oksitosien-vlak, wat stres en angstigheid beheer, kan verhoog. Dit verbeter dus jou geestestoestand. Ervaar die wonderlike gevoel dat jy en jou medekoorlede dieselfde doelwit het: julle is besig met iets moois, iets kreatiefs! Koorsang bevorder dus ook mindfulness; aandagtigheid of bewustheid in Afrikaans. (Tom Jacobs. Choral singing boosts mindfulness, 28 September 2017.)
  • Kan die volgende waar wees? Dalk tog. In ’n gesamentlike studie in 2008 deur die toonaangewende Amerikaanse universiteite, Harvard en Yale, is bevind dat die groep mense in ’n dorp in Connecticut wat lank reeds saam in ’n koor sing oor die algemeen langer lewe as die ander mense in die dorp.
  • Nog nie oortuig nie? Een van die skrywer, Daniël H. Pink, se gevolgtrekkings in sy boek, When: The Scientific Secrets of Perfect Timing, is: “Koorsang is die nuwe oefening: Koorsang kalmeer die hart, en verhoog die endorfienvlakke. Dit verbeter jou longfunksie. Dit verhoog ook jou pyndrempel en verminder dus die gebruik van pynmedikasie en verlaag simptome van depressie.”

Tree met René Ferreira in verbinding  by kiewietf@gmail.com vir ’n stemtoets en kom oefen saam op Dinsdagaande van 7 tot 8 in die kerkgebou.

Adinda Vermaak

Mei 2018