29 Oktober 2024
Ek vertel sommer van ‘n lekker pretdag wat ons gehad het om kwartaal 2 af te sluit, met ‘n lekker Noot vir Noot – sien foto’s.
Ek stel ‘n Noot vir Noot op amper net soos die regte een, met riglyne wat ons jaaaaaaaare gelede (1998) van die Kinderkrans gekry het.
Daar is liedjies wat gepaar moet word met prentjies, daar is woorde wat herken moet word wat in liedjies voorkom (ek sing sommer die liedjies), daar is leidrade wat ons moet lei na liedjies toe, en dan groot pret, net die wysies van liedjies word gespeel, en die titel moet herken word. As die persoon die liedjie kan sing, is daar nog 10 bonuspunte.
Ons het nie ‘n instrumentalis nie, so gewoonlik fluit Tannie Riëtta die wysie. Toe haar asem opraak, van toe alreeds baie sing en rondspring, span sy twee “lidmate” in, naamlik Carlie Visser in graad 6 en Hannahlize Neethling in graad 4. Wenners!
Vir die meeste van die afdelings is daar liedjies wat pas by ‘n spesifieke graad se moeilikheidsgraad. En raai wie was die wenners? Graad 6, ons seniors. En raai wie was nommer 2? Graad 1!!!! Elke kind het ‘n muntstuk-sjokolade ontvang, en die wenklas elkeen ‘n groter sjokolade. Vet pret!
Ons is ook innig dankbaar vir Oom Jacques wat vir ons die powerpoint ge-“operate” het.
NS Toe die tyd nog nie verstreke was nie, kon elke graad ‘n liedjie kies uit ons verskeidenheid, en het ons sommer sonder musiek gesing. Groot was my verbasing toe Graad 6 wraggies die Oorwinningslied sing, pragtig!
Kinderkerk-groete
Riëtta