19 April 2024
Wat ‘n genade! As Jeugkommissie bou ons al van Maart 2022 ‘n verhouding met VGK Koelenhof. Dis ‘n voorreg om die oggend weer daar in hulle kerk se banke te sit en terug te dink aan die pad wat ons saam geloop het. Ek besef ook hoe belangrik dit is dat ons ons stories vertel soos Ds Janine voorheen vir ons kom preek het. Plus dis ‘n lekker storie om te vertel! ‘n Storie of moet ek liewer sê stories van hoop.
Die verhaal het begin met een van ons Jeugkommissie vergaderings waar ons gewonder het waar ons volgende betrokke kan raak. Ons was dankbaar vir ons vorige projekte en die geleenthede daar, maar ons wou iewers betrokke raak in ons nabye omgewing, by ander kinders, waar ons kinders deel kan wees en saamwerk, nie net skenkings/donasies nie. Ds Chris het Bottelary voorgestel. Ons moes net kontak maak met die gemeente wat in die area werk – VGK Koelenhof.
Ons ontmoet toe een aand vir Ds Desmond en hulle kategese klasleiers, ‘n groepie dames. Hulle het ‘n behoefte aan lesmateriaal en apparaat om hulle Sondagskool klasse te hou.
Ek onthou nog Tannie Riëtta se eerste besoek aan die gemeente en hoe sy beskryf het hoe almal ingryp om die diens vlot te laat verloop, ‘n ware spanpoging, wat met min oor die weg moes kom. Ek onthou ook Tannie Susan en Tannie Riëtta se moeite met die spesiale opleiding geleentheid en hoe ons van ons eie materiaal bymekaar gemaak het en aankope gedoen het om hulle toe te rus en sommer ook so bietjie te bederf. Dis Tannie Riëtta se droom om mense op te lei in Kinderbediening en sy het die geleentheid met beide hande aangegryp. Dit was ‘n voorreg om haar passie te sien en hoe vinnig sy die klasleiers bearbei het.
Dit was ‘n onbeskryflike oomblik hoe Tannie Ella, een van die einste klasleiers, ‘n paar maande later vir haar kinders die kleure liedjie geleer het om by hulle gemeente op te voer met ons eerste besoek daar met ons Graad 5 en Graad 6 groep. Dis ‘n liedjie waar ons die kinders leer om die evangelie te vertel. Tannie Riëtta se preek dat ons almal deel is van een span, God se span, is ook ‘n preek wat my sal bybly. Sy was vreesloos om voor ‘n ander gemeente te staan en hulle van ons Here te vertel.
Natuurlik het hulle ons ook besoek!
Almal het trane weg gevee toe Lizelle se seun, Naudé, met sy skoene insameling projek ‘n bakkie vrag vol skoolskoene skenk aan VGK Koelenhof gemeente, sodat hulle kinders kon ondersteun wat skoolskoene nodig het. En Ds Chris wat met ons gepraat het oor geloofsvoetspore.
Ons het laas jaar weer vir Ds Desmond genooi, om te hoor waar hulle vorentoe ondersteuning nodig gaan hê. Dit was weer een aand en hy het ‘n groep manne saamgebring wat betrokke is by hulle Jeug, dis nou kinders van 13 – 35 jaar.
Ons was aangenaam verras om te hoor dat hulle ‘n koffiekroeg bediening Vrydae aande het en het besluit ons moet hulle hande versterk met die bediening. As daar kinders is wat Vrydae aande tyd maak vir die Here, moet ons ondersteun hoe ons kan. En ons leer ken toe vir Warren wat die leiding hier neem. Hulle was in staat om die kinders op ‘n see uitstappie te neem en het die fondse waarmee ons Spar geskenkbewyse gekoop het gebruik vir verdere fondsinsameling, sodat hulle die jaar ‘n jeug kamp kan hou!
Ons het ook ons behoefte uitgespreek om ‘n verhouding met hulle te bou en tyd te maak om mekaar te besoek. En so stilweg op die agtergrond het Lizelle kopbande gehekel. Tannie Susan, het vissies en boontjiesakkies gemaak. Dan het ons gemeente (nie die Jeug op ons eie nie) ook gehelp met die kersgeskenkpakkie projek vir VGK Koelenhof jaarliks. Klere en Vere het ook gereeld pakkies gestuur vir VGK Koelenhof. Van wat ons gesien het pak hulle die klere uit op ‘n groot tafel soos wat mense in die kerk in kom of die kerk verlaat dat hulle klere kan neem soos hulle nodig het. Daar is al verskeie donasies/omgeepakkies gegee oor die tydperk, van hulle sigbaar, ander stilweg, ongesiens.
Ek kon daardie oggend, 17 Maart, aan al die dinge dink terwyl Desmond, ‘n kerkraadslid, ook al ‘n bekende gesig, vir ons dankie sê vir alles. Die Here alleen sal weet wat daardie ALLES beteken, en in wie se lewens ons die voorreg gehad het om te kon saai. Ons was maar net die verteenwoordigers van ons gemeente. Die preek dié keer oor Daniël wat volhard het op die pad waar die Here hom lei. Tannie Ella steeds op haar pos met hulle kinderbediening.
Dankie, Elmarie, ons Senior Kategese Koördineerder, vir die reëlings se tref. Saam met haar was ons 2 klasleiers, 1 ouer en 13 kinders, wat kon saamgaan. Die Graad 6 groep van destyds, nou Graad 8 kon weer saamgaan. En hulle onthou weereens die sang, samesyn, maar ook die lekker roomys en vrugte. ‘n Stukkie dankbaarheid wat ons nederig kon ontvang.
Ons het geen foto’s geneem nie, geen formele oorhandigings gedoen nie. Dit was heerlik om net saam kerk te wees en ons harte was vol. Ons het dalk meer om te gee, maar hulle verryk ons en ek leer met elke ontmoeting. Mag daar nog baie NG De Eike en VGK Koelenhof stories van hoop wees en dat ons almal die verhouding sal koester tot eer van die Here. Amen.