31 Januarie 2025
Dis ons eerste Senior Kategese ontmoeting op Sondag, 26 Januarie en geopende deure besoek ons om te vertel van hulle organisasie.
Ons het sopas Janine Williams se boodskap gehoor oor hoe ons God se heerlikheid moet uitstraal en geleer van die Jubeljaar waar almal vry gekoop is.
En toe vertel Johan, spreker van geopende deure, ons van Christene wat leef in vervolging. Wat nie die vryheid het om in die openbaar die Here te dien nie. Hoe uitdagend dit is om net die woord van die Here in die hande te kry in sommige lande. Hy praat van teksverse skryf op toiletpapier sodat dit ingesluk kan word voor hulle daarmee gevang word. Bybels wat weggesteek moet word.
Hy wys vir ons ‘n grafiek met die top 50 lande op hulle wêreldwaarnemingslys. En vertel van die Christene se vervolging daar. Christene is al hoe minder tuis in die Midde Ooste en Noord Afrika. Hulle visie:
Geen Christen hoef alleen vervolging te verduur nie.
WD, een van ons Graad 7 seuns, neem deel aan die gesprek en Johan vra hom later om gekruisde bene te kom sit voor die preekstoel. ‘n Dag later vertel WD nog die storie van die dogtertjie wat so gekruisde bene moes sit op ‘n matjie, vir 3 maande, toegesluit in ‘n kamer, haar boetie het kos en water onder deur die deur vir haar in gesmokkel. Haar pa het haar daar toegesluit omdat sy die Here bely het as haar verlosser en hy het gesê sy moet nie waag om op te staan voor sy die Here ontken nie. Hulle bure het haar gered, sy was uitgehonger en het mediese hulp nodig gehad na die 3 maande se lyding.
Sjoe, dit het my laat dink aan my gemaklike wêreld as Christen. Waar ek net moet besluit of dit vir my ‘n prioriteit is om tyd met die Here te spandeer deur te bid, Bybel te lees of kerk toe te gaan. En die dinge het my nog nooit so baie gekos soos wat dit vir die dogtertjie gekos het nie.
Dit laat my toe ook wonder: Waar moes ek al waag om Jesus te deel?
Aan die einde van die ontmoeting herinner Tannie Petro vir Johan om te vertel van hulle gebedslys wat maandeliks op hulle webtuiste beskikbaar is. Hier is die skakel: https://www.opendoors.org.za/afr/
Hoe kan ons help? Deur te bid, ander te vertel van hulle organisasie, donasies, aanmeld as vrywilliger en te reis.
Lize Fölscher