23 Maart 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 10. Waar gaan ons só ‘n Verlosser kry?
Sondag 6
Vraag 16: Waarom moet hy ‘n ware en regverdige mens wees?
Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal. Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie.
Vraag 17: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?
Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid die las van die toorn van God aan sy mensheid te kon dra en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee.
Vraag 18: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God en ware regverdige mens is?
Antwoord: Ons Here Jesus Christus, wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het.
Vraag 19: Waaruit weet jy dit?
Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het. Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld. Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul.
Verlede week het ons geeïndig met ‘n lewensbelangrike vraag. Jy kan letterlik sê dat ons saligheid daarvan afhang. Tot dusver het die HK vir ons bo enige twyfel uit die Woord bewys dat ons mense verlore is in ons sonde en regtig Iemand nodig het om ons te help. Maar die groot vraag is nou: waar gaan jy só ‘n iemand kry? En dan kom gee Sondag 6 vir ons die antwoord. Ons Verlosser sal iemand baie spesiaal moet wees!
Om mee te begin, is dit baie duidelik dat dit nie ‘n hemelwese – ‘n engel of dalk God self – kan wees nie. Om vir ons in te staan en vir ons sonde te betaal, sal ons Verlosser regtig ‘n mens moet wees. Maar aan die ander kant kan geen mens dit mos doen nie. Ons verlosser sal ook regtig God moet wees, om in ons plek voor God te kan staan. Ons Verlosser sal ware God en ware mens (maar dan sonder sonde van sy eie!) moet wees.
Ek dink teen die tyd verstaan jy seker goed dat ons ‘n groot probleem het. Ek moet self sê, ek ken regtig nie baie kandidate wat aan hierdie vereistes sou beantwoord nie. Dit sal regtig iemand baie uniek moet wees. Ons gaan vir seker nêrens self so ‘n iemand uitkrap nie! Maar dan kom die goeie nuus (“evangelie”)! God gee self die Middelaar. Daar is wel Iemand wat kwalifiseer om ons Verlosser te wees: Ons Here Jesus Christus. En omdat God ons so liefhet, gee Hy Hom aan ons, om ons te verlos.
Sjoe, dit klink te goed om waar te wees! Gaan dalk die gemiddelde (en baie verstaanbare!) reaksie hierop wees. Hoe kan ‘n mens hiervan seker wees?. Vir die samestellers van die HK is die antwoord eenvoudig. Ons kan seker wees, omdat God self so gesê het. En Hy jok nie en speel nie speletjies nie. Hy het in soveel woorde in sy Woord deur die eeue oor en oor vir ons gesê dat Jesus Christus, sy Seun, vir ons mens geword het en vir ons sonde aan die kruis betaal het. Hy is die ideale Middelaar, wat ons weer met God versoen het. Aan Hom kom al die eer toe!