13 April 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 11. Wat is geloof en wat moet ons glo?

 Sondag 7

Vraag 20: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?

Antwoord: Nee; maar slegs die wat deur ‘n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem.

Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof?

Antwoord: ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Vraag 22: Wat moet ‘n Christen glo?

Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

Vraag 23: Hoe lui die artikels?

Antwoord:

(1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

(2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

(3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;

(4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel;

(5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood;

(6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

(7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

(8) Ek glo in die Heilige Gees.

(9) Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

(10) die vergewing van sondes;

(11) die opstanding van die liggaam

(12) en ‘n ewige lewe.  

Die HK begin vandag met ‘n groot waarheid wat Paulus ook telkens onderstreep: Die manier waarop God gekies het om ons te red, is deur die geloof. Net hulle wat “al sy weldade aanneem” mag hulleself kinders van God noem, en lewe in die nuwe, herstelde verhouding met God. Enigiemand wat dit hoor, sal dadelik besef dat daar dan sekerlik geen belangriker woord in die kerk se woordeskat as “geloof” kan wees nie (behalwe dalk “genade”!). Dis dan nou die manier waarop God ons red: deur die geloof!

Daarom kan dit sekerlik ook ‘n baie belangrike vraag wees om te vra: Maar wat is geloof nou eintlik? Dis ‘n sinvolle vraag. Na alles is “geloof” een van daardie woorde wat mense verskillend verstaan. Wat is die ware geloof, waardeur ons gered kan word? vra die HK.

Dis twee goed, kom die antwoord. In die eerste plek betrek dit jou verstand. Daar is goed wat jy moet weet. Geloof hang nie sommer in die lug nie, dit staan vas geanker op die waarhede van die Bybel. Jy kan tog nie glo as jy nie weet wie God is, en dat Hy jou liefhet, en daarom sy Seun as Verlosser na die wêreld gestuur het nie! Daarby moet jy weet hoe jy Hom kan aanneem as Verlosser, en hoe jy daarna uit dankbaarheid gaan lewe. (Onthou jy nog dat die HK ons daar aan die begin geleer het dat daar drie goed is wat ons moet wéét om gered te word: oor Sonde, Verlossing en dankbaarheid). Jy moet dit weet – maar aan die ander kant, beteken die blote feit dat jy dit weet nog nie dat jy verlos is nie. Jy moet ook iets maak met daardie kennis. Jy moet kies om die Here op sy woord te neem en te vertrou. Maar selfs daarin laat God jou nie alleen nie, want dis die Heilige Gees wat hierdie vaste vertroue vir jou moontlik maak deur dit in jou hart te werk. Jou geloof is dus self ‘n gawe van God, en geen prestasie waarmee jy jou verlossing by God “koop” nie.

Maar dit het die HK mos al eintlik in die vorige vraag bevestig, as hy sê dat geloof is om “al sy weldade aan te neem”. Te ontvang, met ander woorde. Geloof is die oop hande waarmee jy God se geskenk in ontvangs neem. Daarom bevestig die HK weereens dat dit alles louter genade is, waardeur God ons “vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het”.

Nou wat is dit nou eintlik, wat ons glo? is die volgende vraag. Wat is die inhoud van ons geloof?  Wel, dis een vraag wat jy darem seker nie gaan sukkel om te antwoord nie – jy sê dit dan amper elke Sondag hardop op!

In eenvoudige Afrikaans: Wat is die ware geloof dan, waardeur ons gered word?

Antwoord: Dis om net vir God te vertrou, en net dit te ontvang wat Hy vir jou gee: die verlossing wat Jesus aan die kruis vir jou ook verdien het. Daar begin alles!