20 April 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 12. Die groot Onbegryplike
Sondag 8
Vraag 24: Hoe word hierdie artikels ingedeel?
Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.
Vraag 25: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees?
Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.
Die antwoord op die eerste vraag van Sondag 8 sal jou sekerlik nie verbaas nie. Ons het so pas gehoor dat alles wat ons glo in die Apostoliese Geloofsbelydenis saamgevat is – die “Twaalf Artikels” wat jy baie Sondae in die kerk opsê. Hierdie belydenis bestaan uit drie hoofdele: oor die Vader, oor die Seun en oor die Heilige Gees.
Maar dan is dit asof die opstellers van die HK vierspoor vassteek. Wag net ‘n bietjie! sê hulle. Daar is tog net een God. Waarom praat ons dan van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, asof hulle eintlik drie is? Daarmee raak ons een van die moeilikste leerstukke in die kerk aan. Dit wat bekend staan as die Drie-Eenheid van God. Hoe is dit moontlik dat dieselfde God wat tog baie duidelik Homself as één enkele God bekend stel, Homself tog ook as drie duidelik onderskeibare persone openbaar? Hoe kan Hy een wees, en tog ook drie wees?
Dis geen wonder hierdie leerstuk is vir so baie mense ‘n groot struikelblok nie. Ons menslike verstand kan dit eenvoudig nie kleinkry nie! Wat ons aanbetref is een plus een plus een gelyk aan drie. Klaar. Ons maak die hele saak dus vir ons onmoontlik as ons ons vertrekpunt in die drie Persone van God neem. Miskien moet ons eerder op die ander punt begin, deur saam met die Geloofsbelydenis van Nicea te sê :”Ek glo in een God…” Dit is die ononderhandelbare vertrekpunt. Die Bybel praat nêrens van ‘n veelgodedom soos waaraan die meeste heidennasie van daardie tyd geglo het nie. Dit stel reg van die eerste woord as bo alle twyfel: daar is NET EEN God.
Hierdie een enkele God het egter gekies om Homself op drie maniere aan ons te openbaar. Die een kerkvader het gepraat van die drie “gesigte” wat God vir ons wys: Ons leer Hom uit die Bybel ken as Skepper, as Verlosser en as Herskepper, en elkeen van hierdie rolle word aan ‘n spesifieke Persoon gekoppel. Ons leer God ken as die Oorsprong van alle lewe (die Vader), as die Een wat Homself as volmaakte offer vir ons sonde aanbied en ons met Homself versoen (die Seun), en as die Een wat binne-in ons kom woon, om ons te leer en te lei. In elkeen van hierdie gevalle is dit steeds dieselfde God, maar Hy kies om Homself op drie verskillende maniere te openbaar.
Ek het al in my lewe baie beelde gehoor waarmee mense dit probeer illustreer, maar hulle is almal uiteindelik onbevredigend, want hoe kan ‘n mens nou eintlik die onsêbare sê? Dalk is die een wat dit vir my die duidelikste maak, die een wat ons herinner daaraan dat ekself ook in verskillende hoedanighede funksioneer. Vir my vrou is ek haar man, vir my kinders is ek Pa, en vir die gemeente is ek die dominee. Dit maak nie dat ek drie verskillende mense is nie. Ek is steeds een mens, wat net in drie verskillende hoedanighede optree.
Natuurlik is dit maar net ‘n menslike beeld, en daarom ontoereikend. Dit kan jou dalk selfs laat wonder: Hoekom bely ons dan nou eintlik die Drie-eenheid van God, as dit so ‘n onverstaanbare leerstuk is? Die antwoord is eenvoudig: God het gekies om Homself so te openbaar. En dis vir ons genoeg. Selfs al verstaan ons dit dus eintlik glad nie, sal ons dit altyd bly bely. Ons is glo in één God, wat Homself as drie persone aan ons openbaar. Drie, maar tog een.