26 April 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 12. Die Inhoud van ons geloof (i) Die Vader
Sondag 9
Oor God die Vader en ons Skepping
Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer, ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. Op Hom vertrou ek sodat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie. Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan en ook as ‘n getroue Vader wil doen.
Ons het verlede week gesien dat ons bely dat ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Dis die inhoud van die belydenis wat ons Sondae in die kerk opsê. Van Sondag 9 af begin die HK praat oor dit wat die Bybel vir ons leer oor elkeen van hierdie drie Persone, beginnende by die Vader in Sondag 9. Wat glo ons oor God die Vader? Wel, ‘n paar goed:
- Hy is die Skepper. Hy het alles wat ons ken, uit die niet geskape (in die teologie staan dit bekend as die “creatio ex nihilo”: skepping uit niks). Natuurlik gaan dit ons verstand te bowe; ons kan goed hervorm en iets nuuts daaruit maak, as ons net die roustof in die hande kan kry. Maar God kon net die skeppingswoord spreek, en sy woord alleen was skeppingsmagtig. Hy kon spreek, en dan staan dit perfek daar. Hy kan dit doen, want Hy is God…
- Hy is steeds in beheer. God het Hom nooit onttrek aan sy skepping en dit maar aan sy lot oorgelaat nie. Hy is steeds daarby betrokke en onderhou dit. Sonder God, sou alles uitmekaar val en vergaan. Maar dit gebeur nie, want Hy sorg daarvoor.
- Hy is ons Vader. Deur die soenverdienste van sy Seun Jesus Christus, wat as Middelaar ons weer met God versoen het, is die verhouding tussen ons en ons Skepper herstel. Dit beteken dat die almagtige Skepper van hemel en aarde, wat alles in sy hand hou, ook my Vader is.
- Ons kan Hom vertrou. Dt het verreikende gevolge vir ons! Hierdie almagtige Skepper-God aanvaar as Vader volle verantwoordelikheid vir my. Daarom kan ek rustig wees, en Hom vertrou. Hy neem verantwoordelikheid nie net vir my geestelike lewe (my siel) nie, maar ook vir my fisiese versorging (my liggaam). Soos net ‘n pa kan, sorg Hy vir my. En as daar in hierdie deurmekaar wêreld slegte goed met my gebeur, kan ek weet dat Hy self sal sorg dat dit op die ou end vir my tot beswil sal strek. Hy kán dit doen, want Hy is die Almagtige. Hy is God!
Die eerste artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis stel ons dus voor aan die God wat vir ons kan en wil sorg. Wat ‘n wonderlike voorreg is dit om op te staan en saam met die res van die kerk, gelowiges die wêreld oor, te kan bely: Dít is die God in wie ons glo!