11 Mei 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 13. Die Inhoud van ons geloof (ii) Die Vader
Sondag 10
Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.
Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.
Die vorige keer het ons saam met die HK die eerste artikel van ons geloof wat ons Sondae hardop bely, onder die mikroskoop gesit. Wat is dit nou eintlik wat ons bely, as ons sê dat ons glo in God die Vader? het ons gevra. Ons is herinner daaraan dat Hy die Skepper is, ons Vader wat steeds alles onderhou, en wat ons onder alle omstandighede kan vertrou. Hierdie week die groot vraag: maar wat bedoel jy as jy van die “voorsieningheid” van God praat?
Dis nogal ‘n baie belangrike vraag, want dit kan eintlik baie goed beteken. So kan mense dalk daarvan aflei dat God alles tot in die fynste besonderheid vooraf beplan het, en dat ek en jy maar net die tonele uitspeel wat Hy alles klaar vooraf bepaal het. Dit sou egter beteken dat ek en jy nie regtig mense sou wees nie – dis tog eie aan menswees dat ons besluite kan neem en keuses kan maak. Selfs verkeerde keuses. Dis dus duidelik nie wat die Kategismus bedoel nie.
Wat ons wel bely, is die wonderlike waarheid dat God steeds sorg vir sy skepping. Hy het nooit sy hand daarvan teruggetrek nie, maar Hy gee elke dag vir ons wat ons nodig het. Net soos ‘n Pa vir sy kinders sorg in alles wat hulle nodig het, van kos en skoolskoene tot sekuriteit en liefde, so sorg God vir jou en my. Alles waaraan jy kan dink, is geskenke wat Hy vir ons gee. Elke nuwe dag, gesondheid en krag, kos en klere. Ja, jy mag hard daarvoor werk, maar dis Hy wat vir jou die geleenthede en die krag gee om dit te doen. Hy sorg vir jou!
Nou is die Kategismus klaar met die eerste artikel. Maar net voor hy daarvan afstap, vra hy nog een laaste vraag daaroor: wat baat dit ons? Wat help dit jou, om te bely dat God jou Vader en Skepper is, wat steeds vir jou sorg. Jy kan die antwoord op hierdie vraag eintlik in een enkele woord saamvat: Vrede. Omdat ek weet dat God my Vader is, kan ek ontspan. Want ek weet, wat ook al gebeur in hierdie deurmekaar wêreld, goed of sleg, ek het ‘n Vader wat in beheer is en vir my sorg. Hy sal my nooit laat gaan nie, en niks sal ooit tussen Hom en my kan inkom nie. Hierdie wete maak my intens dankbaar, sodat ek graag tot sy eer wil lewe, en daarby maak dit my rustig, omdat ek Hom selfs in teenspoed kan vertrou.
Want ek glo in God, die almagtige Vader, wat hemel en aarde geskape het…