18 Mei 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 14. Net Jesus!

Oor God die Seun en ons Verlossing

Sondag 11

Vraag 29: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?

Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie.

Vraag 30: Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?

Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem. Slegs een van twee dinge is immers moontlik: of Jesus is nie ‘n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met ‘n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is.

Die taal waarin Sondag 11 praat, voel vir ons moderne mense bietjie vreemd. Jy kan hoor die stryd teen die Rooms Katolieke kerk is nog baie voorop in die opstellers se gedagtes. Vandag dink ons selde daaraan – trouens, die Roomse Kerk dink nie eintlik meer oor baie van die goed nog soos destyds nie. Is dit dan nie nou tyd om hierdie artikel te skrap nie?

Glad nie! Want eintlik gaan hierdie twee vrae oor baie meer as net die verering van heiliges. Agter hierdie vrae lê ‘n kernwaarheid van ons belydenis. Vandag ken ons dit in ons kerk as die Latynse slagspreuk “Solus Christus” (Slegs Christus). Jy hoor dit mos gereeld hier rondom Hervormingssondag. Dit beteken: daar is net een plek waar jy jou “saligheid en heil kan soek” om die HK se woorde te gebruik. Ons het net één Verlosser – Jesus Christus. Dis mos hoekom die engel destyds vir Maria gesê het hulle moet die babatjie Jesus noem – want Hy is die Verlosser! (Dis tog wat sy Naam beteken). Jesus is van geboorte af al die Verlosser van die mensdom.

Maar ongelukkig het die gewoonte om jou saligheid buite om Jesus te soek, nie saam met die verering van die heiliges in die Middeleeue verdwyn nie. Vandag se mens soek nog steeds sy geluk en redding in baie ander goed: van status en rykdom, tot gewildheid en dinge wat eintlik op sigself baie goed is, soos sport. Calvyn het die mens nie verniet destyds al “’n Fabriek van afgode” genoem nie. Ons is besonder vindingryk met wat ons alles in die plek van Jesus die ereplek in ons lewe kan gee!

Jy gaan nooit hierdie geestelike vrede in enigiets anders vind nie – ook nie binne-in jouself nie. Al die introspeksie en meditasie en selfverbeteringstegnieke gaan jou nie ware vrede bring nie. Ook nie strenge selfdissipline en askese nie.

Die antwoord is Jesus. Hy is die Verlosser wat God self vir ons gegee het, en dis futiel om enigiemand of enigiets anders daardie rol in jou lewe te gee. Hy alleen “bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” sê Petrus mos vir ons in Handelinge 4:12. Hy alleen is ons Verlosser!