24 Mei 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 15. Jesus as die Christus
Sondag 12
Vraag 31: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is tot ons hoogste Profeet en Leraar, wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het; tot ons enigste Hoëpriester, wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree; tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar.
Vraag 32: Waarom word jy ‘n Christen genoem (a)?
Antwoord: Omdat ek deur die geloof ‘n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het sodat ek sy Naam kan bely, myself as ‘n lewende dankoffer aan Hom kan toewy en in hierdie lewe met ‘n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer.
Verlede week het ons gepraat oor die een Naam waaronder ons Verlosser bekend is. Hy word “Jesus” genoem, want dit beteken eintlik “Verlosser”. Maar Hy staan ook onder ‘n ander benaming bekend: Hy word ook “Christus” genoem. Nou vra die HK: waarom noem die Bybel Hom so?
Wel, die rede is net so eenvoudig. Soos Jesus / Jesua “Verlosser” beteken, so beteken Christus “Gesalfde” (In Hebreeus “Messias”). In die Ou Testament lees ons dikwels dat mense wat deur God vir ‘n spesifieke taak geroep is, deur ‘n profeet gesalf is daarvoor. Dieselfde is ook van Jesus waar. God het Hom aarde toe gestuur vir ‘n baie spesifieke doel. Hy moes God se wil aan ons bekend kom maak (die rol wat profete altyd gespeel het); Hy moes die offer bring wat ons vir altyd met God sou versoen (wat Priesters normaalweg gedoen het); en Hy was bestem om tot in ewigheid te heers oor die skepping en oor al die magte van ons wêreld (soos ‘n koning). Vir hierdie take het die Heilige Gees Hom aangestel en toegerus (“gesalf”), net soos die profete, priesters en konings van ouds.
Die wonder eindig egter nog nie hierby nie. Omdat ons volgelinge van Jesus is, word ons self ook “Christene” genoem. Daardeur sê ons dat ons deel in hierdie drieërlei amp van Jesus. In navolging van Jesus moet ook ons God se Woord verkondig (soos profete), myself as offer aan God wy en die versoening aan mense bedien deur hulle na die Here toe te lei en by Hom vir hulle in te tree (soos priesters) en word ons ook geroep om (soos konings) oor die sonde te heers. Ons dra dus nie net die Naam van ons Here nie, ons deel ook in sy taak waarvoor Hy aarde toe gekom het!
In die kerk praat ons van die drievoudige Amp wat Jesus beklee: Hy is Koning, Priester en Profeet, en ons word ook deur die Gees toegerus (gesalf) om profete, priesters en konings in diens van God te wees. Wat ‘n wonderlike voorreg om ook so in sy voetspore te loop!