8 Junie 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 17. Oor Kersfees

Sondag 14

Vraag 35: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?

Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is en bly, die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het. So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid, in alles aan sy broers gelyk , behalwe die sonde.

Vraag 36: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is, en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.

In hierdie twee vrae gaan die HK steeds voort met met sy bespreking van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Tot dusver het ons gehoor wat dit beteken dat ons bely dat Jesus Christus die eniggebore Seun van God is. Nou gaan hy verder, met die belydenis wat vir baie mense die mees problematiese van almal is: die belydenis dat Jesus se geboorte bo-natuurlik was. Hy is nie normaalweg verwek nie, maar die Heilige Gees het Hom aan ‘n meisie gegee wat nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie. Hierdie maagd se naam was Maria. Hy was dus van geboorte af geen gewone mens nie, en het daarom ook nie die erfskuld geërf waarmee ons almal gebore word nie. Hy is en was God, wat die menslike natuur aangeneem het – iets wat jy mos van geeneen van ons kan sê nie. So stam Hy dan van Dawid af (die Jode bereken jou afkoms via jou ma en nie soos ons via die pa nie). Maar Hy kom ook direk van God af. Hy is ten volle mens en tog ten volle God – die ideale Middelaar tussen God en mens!

Dit alles klink dalk vir jou ‘n bietjie pedanties. Hogere teologie van die ergste graad. Wel, toegegee, is dit nou nie juis iets waaraan ons as gelowiges elke dag dink of waaroor jy elke Sondag ‘n preek gaan hoor nie. Maar tog is dit vir ons uiters belangrik en bely ons dit – omdat dit is wat die Woord van God ons leer. Dis die manier waarop God gekies het, ons gered sou word! Ongelukkig kan jou verstand dit natuurlik nie kleinkry nie, en daarom vind baie mense dit baie moeilik om te glo. Ons weet immers lewe kan nie sommer so spontaan ontstaan nie. Daar is volgens ons ervaring net een manier waarop ‘n meisie swanger kan raak. Dan moet jy nie alleen voel nie – Josef het natuurlik met daardie selfde probleem geworstel! Maar selfs hy, ‘n eenvoudige skrynwerker, het later verstaan dat God enigiets kan doen. Hy kon aan die begin die lewe skep deur net ‘n woord te sê, en Hy kan dit ook in ‘n maagd skep, as Hy wil!

As dit nog altyd ‘n bietjie van ‘n probleem bly, dink ek persoonlik nie jy moet te veel slaap daaroor verloor nie. Daar is mos baie goed wat ons nie verstaan nie, en dit gaan jou vir seker nie uit die hemel hou nie! Wat die HK net regtig wil hê jy moet verstaan, is dat geen gewone mens ons middelaar sou kon wees nie. En aan die ander kant ook, kan geen God ook vir ons sonde betaal nie. Maar Iemand wat God, in die gestalte van ‘n mens, is, kan dit wel doen – en het dit inderdaad gedoen! Sodat ek en jy kan lewe!

So bring die grootste tammeletjie van die geloofsbelydenis ons tot lof en dankbaarheid. God is wonderliker as wat ons ooit sou kon verstaan!