14 Junie 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 18. Oor die lyding van Christus (i)

 Sondag 15

Vraag 37: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?

Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het. So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf.

Vraag 38: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely?

Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom.

Vraag 39: Sit daar iets meer in dat Christus juis gekruisig is en nie op ‘n ander manier gesterf het           nie?

Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het, omdat die kruisdood deur God vervloek is (Deut. 21:23)

In Sondag 15 se stukkie praat die HK spesifiek oor die lyding van Christus. Die heel eerste punt wat hy hieroor maak, is dat Christus se lyding nie eers op Paasnaweek begin het nie. Inteendeel – sy menswording staan reeds in die teken daarvan. Eers moes sy ma wat só ver swanger was, op ‘n donkie die lang pad Betlehem toe aandurf, en toe was daar vir hulle nêrens blyplek nie, sodat Hy in ‘n stal gebore is. Vir die Prins van die hemel sou normale geboorte as ‘n mens sekerlik al vernedering genoeg wees – maar in ‘n stal?! En natuurlik was dit alles maar net die begin. Hy is van die begin af net deur vyandigheid begroet, en moes vlug saam met sy ouers vir hul lewe. En so het dit sy hele lewe lank gegaan. Geen paleise en luuksheid vir Hom nie. Hy het in die veld gebly, en verwerping en verguising ervaar.

En eindelik het die kruis natuurlik gewag. Daar het Hy “die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra”. Oor sy fisiese lyding is al so baie gesê, want dis iets wat ons darem so min of meer kan verstaan – baie mense het immers destyds daardie verskriklike dood gesterf. Maar ons weet ook dat dit maar die punt van die ysberg was. Die eintlike verskrikking van die kruis lê op ‘n heel ander vlak. Hy het daar “die ewige verdoemenis” namens ons ervaar, toe God sy gesig van Hom weggedraai en Hy alleen die verskrikking van die hel trotseer het. Daarvan kan ons min begryp – maar meer daaroor volgende keer as ons oor die “ter helle neergedaal” gesels..

Daarby is Hy as totaal Onskuldige natuurlik ook in die proses totaal gefaal deur die menslike regstelsel van sy tyd. Beide die Jode as die Romeine het haas elkeen van hulle eie reëls verkrag in die manier waarop hulle Jesus hanteer het. Totale onreg staan oor sy hele sogenaamde “verhoor” geskryf. Maar uiteindelik toe natuurlik die kruis… Ons word al in Deuteronomium verseker dat elkeen wat aan ‘n paal hang deur God vervloek is. En heel tyd moes Jesus dit alleen dra: om eers deur sy vyande die rug toegekeer te word, toe deur sy volgelinge, uiteindelik deur die owerheid, en ten slotte ook deur sy Vader. Want dit is die volle prys wat ons versoening gekos het. En Hy het dit betaal…

Op die ou end is dit ‘n geloofsartikel wat ek en jy maar net ten dele kan verstaan, en Sondae in verwondering kan stamel: Jesus Christus, die Seun van God, het aan die kruis gely – vir my…