25 Januarie 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 2. Nog ‘n paar opmerkings
Maar wag, voordat ons wegvlieg met die kategismus, moet ons dalk net eers kyk waar dit inpas. Ek wonder of jy verlede week toe ek gepraat het van die “Drie Formuliere van Eenheid” enige idee gehad het waarvan ek praat. Weet jy ooit wat die belydenisskrifte is van die kerk waaraan jy behoort? Hmmm. So gedink. Dan moet ons dalk net heel eerste vandag bietjie meer duidelikheid te kry oor ons kerk se belydenisskrifte. Die eerste ding wat jy moet weet, is dat ons drie Ekumeniese (“Algemene”) belydenisskrifte het:
- Die Apostoliese Geloofsbelydenis (soms die 12 Artikels genoem): Dis die geloofsbelydenis wat ons elke oggend saam met byna alle christelike kerke oor die aarde opsê. Dit dateer uit ongeveer 150nC.
- Die Geloofsbelydenis van Nicea: Jy sou dit verlede week opgesê het as jy in die oggenddiens was. Die formulering verskil net so hier en daar effe van die Apostolicum.
- Die Geloofsbelydenis van Athanasius: dis heelwat meer wydlopig, en word daarom selde gehoor.
Naas hierdie drie is daar ook meer volledige samevattings van wat ons glo: die Drie Formuliere van Eenheid:
- Die Nederlandse Geloofsbelydenis is in 1561 opgestel deur Guido de Brés, wat later as martelaar gesterf het. Dit bestaan uit altesaam 37 Artikels.
- Die Heidelbergse Kategismus is in 1563 deur twee teoloë (Ursinus en Olivianus) opgestel as ‘n leerboek (kategismus) vir die kerk. Dit bevat 129 vrae en antwoorde, ingedeel in 52 Sondae, en 3 dele: sonde, verlossing en dankbaarheid. ‘n Verkorte weergawe, die sg “Kort Begrip” is later vir kategese saamgestel – baie van ons sal dit nog onthou…
- Die Dordtse Leerreëls is in 1618-1619 deur die sinode van Dordt aanvaar om ‘n stryd in die kerk o.a. oor die uitverkiesing by te lê. Dit bestaan uit 4 leerstukke in 5 hoofstukke.
Laat ek maar eerlik wees: so kosbaar soos laasgenoemde drie vir die kerk is, is nie een van hulle regtig baie gemaklike leesstof nie. Ons sukkel maar plek-plek om die formulering en die argumente daarvan te volg. Maar dis waarvoor die E-Nuus daar is! Van volgende week af gaan ons hulle stukkie vir stukke van naderby bekyk. Dan sal jy beter verstaan watter kosbare skat hierdie vir die kerk is. Vandag het ons die “vervelige” geskiedenisles vir eers agter die rug gekry. Van volgende week af raak dinge regtig interessant!
Naskrif: As jy self ons belydenisskrifte van naderby wil bekyk, kan jy dit hier vind: http://www.ngkerk.org.za/belydenis