27 Julie 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 19. Oor die lyding van Christus (ii)

 Sondag 16

Vraag 40: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?

Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie.

Vraag 41: Waarom is Hy begrawe?

Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het.

Vraag 42: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?

Antwoord: Ons dood is nie ‘n betaling vir ons sondes nie, maar slegs ‘n afsterwe van die sondes en ‘n deurgang tot die ewige lewe.

Vraag 43: Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?

Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe. Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, maar kan ons onsself as ‘n dankoffer aan Hom toewy.

Vraag 44: Waarom volg daar: en neergedaal het na die hel?

Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het. Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.

Nou kom die HK by die donkerste deel van ons belydenis oor die Persoon en werk van Jesus. Verlede keer het ons begin gesels oor die feit dat Hy gely het, en die verskriklike omvang daarvan. Op Sondag 16 staan ons voor die verskriklike werklikheid dat daar geen ander weg was wat ons van sonde en dood verlos kon word, as deur die dood van die Seun van God nie. Dis opvallend dat ons nêrens in hierdie gesprek ‘n enkele woord hoor van wat Hy self daaruit kon wen nie. Nee, dit was alles net ter wille van ons. Deur sy dood het daar vir ons lewe gekom!

Was Hy regtig dood?, sou iemand wat sukkel om aan die opstanding te glo, dalk kon vra. Daarom meld die geloofsbelydenis spesifiek, en bely jy elke Sondag dat Hy begrawe is nadat Hy van die kruis afgehaal en dood verklaar is deur die soldate wat daarvoor verantwoordelik was.

Deur sy kruisdood het Jesus ons van die dood verlos. Maar hoe werk dit as ons nog altyd almal een of ander tyd moet sterwe? sou jy kon wonder. En natuurlik sou jy reg wees – die dood wag vir ons almal. Maar met watter verskil! Vir die gelowige het die dood nou net ‘n grens geword om oor te steek om vir altyd by die Here te wees. Ons hoef niks meer bang te wees daarvoor nie. Jesus het al die vrees daarvoor weggeneem!

Ten slotte nog een taai tammeletjie. Wat sê ons as ons Sondae bely dat Jesus “ter helle neergedaal het”? Beteken dit dat Hy fisies ingegaan het in die hel, soos sommige mense beweer? Nee, sê die HK. Dis metaforiese taal. Daarmee sê ons dat Jesus die hel in sy volle omvang aan die kruis ervaar het. Onthou, die hel is waar God nie is nie – en aan die kruis het Hy Hom van Jesus onttrek. In daardie sin het Jesus laer gedaal as wat enigeen van ons ooit sou kon daal – Hy is van God verlate en aan die magte van die duisternis uitgelewer. Ons wil nie eens aldag daaroor dink nie, so erg is dit – maar Jesus is lief genoeg vir jou dat Hy dit gedoen het, vir jou!

So word die donkerste van belydenisse ‘n loflied. Hierdie geweldige prys wat Jesus betaal het, beteken dat ek en jy nooit sonder God sal wees nie, al gebeur wat ook. Geen oordeel sal ons ooit kan tref nie, want dit het Hom alles getref! As jy al ooit ‘n rede gesoek het om Hom elke oomblik van jou lewe te dien en eer, hoef jy niks verder te kyk nie. Hy het ons vrygekoop met sy kosbare bloed…