3 Augustus 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 20. Oor die opstanding van Christus

Sondag 17

Vraag 45: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak. Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot ‘n nuwe lewe opgewek. Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding.

Een van die belydenisse aangaande Jesus waarmee ongelowiges die meeste probleme het, is dié van die opstanding uit die dood. Om te glo dat Hy aan die kruis gesterf het ter wille van ons, is vir ons al moeilik genoeg. Maar elkeen van ons weet dat geen mens uit die dood kan opstaan nie. Dis die “undiscovered country, from whose bourne no traveler returns” om Shakespeare aan te haal. En tog is dit presies wat die Bybel vir ons vertel: dat die dood nie die Seun van God kon vashou nie. Hy wat met een woord lewe kon skep, kon ook vir Jesus uit die dood laat opstaan. Ons aanbid nie ‘n Here wat dood is nie, maar Een wat lewe tot in ewigheid!

Maar wat is die sin in so ‘n moeilike belydenis? vra die HK vervolgens. Waarom was dit deel van God se plan dat Jesus moes sterwe en weer opstaan uit die dood?

Wel, die antwoord is eintlik eenvoudig. Om mee te begin moes Jesus die volle straf op jou sonde dra – en ons weet mos dat die straf op die sonde die dood is. Niks minder as die dood kan daarvoor betaal nie. Hy móés dus sterf, anders kon jy nooit vry wees nie. Alleen deur sy dood kon daar vir ons verlossing kom. As jy dus sou vra: Hoekom moes Jesus sterf, is die antwoord: Ter wille van jóú!

Maar as Jesus toe in die graf gebly het, het die dood tog die laaste sê gehad. Dan het die dood en die duisternis tog gewen, en sou die dood ook nog altyd vir ons in sy greep gehad het. En dit was nie God se plan nie. Daarom het God Hom op die derde dag opgewek uit die dood, as duidelike teken dat Hy Jesus se offer volkome aanvaar het. Die prys was betaal. En die Vors van die Lewe het die graf leeg agtergelaat!

Vir ons het dit verreikende implikasies. Want net soos ons deel in sy dood, deurdat ons ou, sondige bestaan daar saam met Hom aan die kruis gesterf het, sodat ons dit nooit weer hoef te lewe nie, net so deel ons ook in sy opstanding. Daar is n.C. vir ons ‘n nuwe lewe moontlik, vry van die vrees vir die dood. Ons lewe is gewaarborg – omdat Hy opgestaan het en lewe!

Hierdie mag daarom een van die moeiliker artikels van die belydenis wees vir die ongelowige om klein te kry, maar as die Heilige Gees dit op jou hart vasmaak word dit een van die heel wonderlikstes! Dit maak vir ons eindelose perspektiewe oop op ‘n nuwe bestaan saam met die Here. Dit sluit vir ons die lewe oop! Gelukkig natuurlik, verg dit geen kragtoer van jou kant af om dit te glo nie. God het sy Gees in ons gestuur, juis om sekerheid in ons te werk van dit was ons andersins nooit sou kon glo nie. Hyself bewerk en onderhou die geloof in ons. Daarom kan ek en jy maar bely: ons glo dat Jesus opgestaan het!