7 September 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 23. Ek glo aan die kerk
Sondag 21
Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?
Antwoord: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly.
Vraag 55: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?
Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.
Vraag 56: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?
Antwoord: Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie.
Nadat ons die afgelope paar weke nagedink het oor wat ons aangaande God bely, herinner die HK ons vandag aan dit wat ons oor onsself bely. Ons glo immers dat ons “’n heilig algemene Christelike kerk is, die gemeenskap van die heiliges, en in die vergiffenis van ons sondes”. Wat sê dit nou eintlik van ons, die kerk?
Wel, die eerste ding wat opval is dat die oorsprong van die kerk buite onsself lê. Die kerk is nie deur ‘n mens of groep mense gestig nie. Dis alleen omdat God ons in genade uitgekies het om aan Hom te behoort, en ons saamgebind het in sy kerk, wat daar iets soos die kerk bestaan. Hy werk deur sy Gees dieselfde geloof in ons almal, wat ons saambind tot een groot familie. Daarby neem Hy steeds volle verantwoordelikheid vir die kerk: om dit te laat groei, dit te beskerm in tye van gevaar en geestelike verval, en die kerk tot die einde toe te bewaar, sodat ons in die ewige lewe kan deel.
Hierdie mondvol beteken in die eerste plek dat die kerk nie ons s’n is nie. Daarom mag ons dit ook nie inrig soos dit ons pas nie. Hy bly die Hoof en die Eienaar van die kerk, en Hy bepaal deur sy Woord en Gees wat in die kerk gebeur. Maar daarmee saam gee dit ook vir ons die geweldige troos dat God self sorg vir wat syne is. Hy sal self vir sy kerk sorg en dit bewaar. Ons is end-uit veilig by Hom!
En dis van hierdie wonderlike familie waarvan jy ook deel mag wees, omdat Jesus jou Here is, en jy glo in Hom. In hierdie familie het Hy elkeen uniek toegerus om sy plek vol te staan met die unieke gawes wat Hy vir ons gee. Ons behoort nie net aan die kerk ter wille van onssself en vir wat ons daaruit kan kry nie. Ons is deel daarvan sodat ons mekaar kan dien; ‘n lewende organisme (liggaam) waarin ons vir mekaar sorg. Om dus te sê dat jy glo aan die kerk, is ook om te sê dat ek aanvaar die verantwoordelikheid om my plek daarin vol te staan. Ek is nie ‘n passasier nie, maar deel van ‘n lewende liggaam!
Ons wat aan die kerk behoort, deel ook in die geloofsekerheid dat ons eendag hemel toe gaan. Jesus, die Hoof van die kerk, het immers Homself as offer aan God gegee, en so volkome versoening tussen ons en God bewerk. God vergewe nie net ons sonde nie, maar selfs ook ons sondige aard, en dink nie eens verder daaraan nie!
So deel ons in die kerk in die skatte wat Jesus ons gee – as indiwidue, maar ook as familie. Wat ‘n wonderlike voorreg, dat God ons nie verlos het om as enkel-mense te sien en kom klaar nie, maar vir ons ‘n familie gegee het, waarin ons mekaar kan bemoedig en vir mekaar kan sorg. Sy genade ken net geen einde nie…