12 Oktober 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 25. Regverdig voor God!
Sondag 23
Vraag 59: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?
Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en ‘n erfgenaam van die ewige lewe is.
Vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God?
Antwoord: Slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus; so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is, God nogtans aan my sonder enige verdienste van my kant, uit louter genade die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk. Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het. Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem.
Vraag 61: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?
Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is. En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie.
Dis ‘n woord wat ons nie dikwels gebruik wanneer ons aan onsself dink nie: geregverdig. Om die waarheid te sê, ons Gereformeerdes word dikwels daarvan beskuldig dat ons dit glad nie doen nie, maar dat ons by die sondigheid van die mens bly vassteek en vergeet dat ons nuwe mense is. In Sondag 23 kom wys die HK ons egter dat dit nie regtig waar is nie. In hierdie vrae praat die Kategismus oor wie en wat ons regtig is. Jy is in Christus geregverdig voor God, omdat jy glo.
Om dit te verduidelik, kom sê die HK ‘n wonderlike ding oor ons: dat God aan my kant is. Ja, ek is nie blind vir my eie foute nie, en ek weet dat ek Hom nog dikwels teleurstel, maar aan die ander kant is dit mos juis presies wat “louter genade” beteken: God hou dit nie teen my nie. In sy oë is ek die kind wat Hy liefhet. Omdat Jesus reeds vir al daardie sondes betaal het, sien God dit nie meer raak nie – God kyk na my asof ek self al die pad so gehoorsaam soos Jesus was!
Die Kategismus herinner ons ter selfder tyd baie spesifiek daaraan dat ons niks gedoen het om dit te verdien nie – dis mos “louter genade”, het hy pas gesê! Dis ook nie omdat my geloof so watswonders is, dat God dit vir my gee nie. My geloof is nie op sigself ‘n goeie daad waardeur ek die ewige lewe verdien nie! Inteendeel. Geloof is maar net die leë hand waarmee ek vat wat Jesus klaar vir my verdien het. In die teologie noem ons dit “die leegheid van die geloof”. Geloof is nie iets wat ek van my kant af vir God gee of doen, sodat ek die ewige lewe in ruil kan ontvang nie. Dis eintlik maar niks anders, as om net te ontvang nie.
Waar laat dit ons? Wel om mee te begin, moet dit ons oorweldig van dankbaarheid. Wat ‘n wonder, om voor God te mag staan in die wete dat Hy my nie sien soos ek is, vol gebreke, nie, maar dat Hy die nuwe mens sien wat ek in Jesus reeds is, maar nog soms so sukkel om te lewe. En tweedens moet dit my juis motiveer om met soveel meer oorgawe hierdie nuwe lewe vol-uit te lewe, tot eer van God. Om te wees wat ek in Jesus reeds IS! Ek is ‘n regverdigde voor God….