19 Oktober 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 25. Regverdig voor God!
Sondag 24
Vraag 62: Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of ‘n deel daarvan wees nie?
Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor die oordeel van God kan bestaan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte met die wet van God ooreen moet stem en omdat ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is.
Vraag 63: Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomstige lewe wil beloon?
Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste nie, maar uit genade gegee.
Vraag 64: Maar maak hierdie leer nie mense onverskillig en roekeloos nie?
Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat ‘n mens wat deur ‘n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.
In Sondag 24 se vrae en antwoorde spreek die HK een van die klagtes aan wat net na die Reformasie dikwels teen die gereformeerde leer gehoor is: As jy mense leer dat alles net genade is, skep jy ongeërgde lidmate, is gesê. As mense weet hulle kan niks by God verdien nie, maar alles is net genade, sal hulle nie verder moeite maak om God met hulle hele lewe te dien nie. Hulle kry dan alles verniet!
Dis absolute onsin, antwoord die HK. Want dit kan nie gebeur nie. Dis totaal onmoontlik dat enigiemand hierdie wonderlike verlossing kan ontvang, en deur die Gees gevul wees, en nog altyd ongeërg kan bly. Enigiemand wat Jesus as Here aanvaar het, en die ware geloof deur die Heilige Gees in hom het, sal die vrug van die Gees dra. Dit kan nie anders nie!
Natuurlik is dit nou baie eeue later, en hierdie argumente kom waarskynlik nie meer dieselfde dringendheid by ons oor, as destyds nie. Na alles het baie eeue se gelowiges die HK heeltemal korrek bewys. Maar nou is die vraag sekerlik: wat sê dit vir ons in 2018?
Met ander woorde: Wat sê dit vandag vir ons, dat ons net uit genade verlos is, omdat selfs die heel beste werke waartoe ons in staat is, nog maar altyd gebrekkig en ontoereikend (“onvolmaak en met sonde besmet”) is? Wel om die waarheid te sê, dit sê nog vir ons presies dieselfde as in 1563. Enigiemand wat die verlossing uit genade ervaar het, sal noodwendig oorweldig wees deur die wonder van God se genade, en sal nie anders kan as om sy hele lewe in dankbaarheid aan die Here te wy nie. Enige alternatief is net totaal ondenkbaar.
Dit laat ons natuurlik met ‘n baie ongemaklike vraag. Want as dit regtig so vanselfsprekend is, hoekom is daar dan party dae so min van in ons eie lewe te sien? Waarom is die “vrugte van dankbaarheid” dan so skraal aan die takke van ons lewe?
Die fout lê vir seker nie by God en sy verlossingsplan nie. Dit lê by my. Hierdie wete moet my selfs nog meer afhanklik van Hom maak, en net nog meer dankbaar vir al sy genade. Dit moet my help om nooit vrede te maak met die onvolmaaktheid van my eie lewe nie, maar net met al meer oorgawe vir Hom te lewe!