26 Oktober 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 24. Oor die Sakramente

Oor die sakramante

Sondag 25

Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so ‘n geloof dan vandaan?

Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente.

Vraag 66: Wat is sakramente?

Antwoord: Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat God vanweë die enige offer van Christus wat aan die kruis volbring is, vergewing van die sondes en die ewige lewe uit genade skenk.

Vraag 67 : Is die Woord en die sakramente albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus wat aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys?

Antwoord: Ja, seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer van Christus rus, wat aan die kruis vir ons volbring is.

Vraag 68: Hoeveel sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of Testament ingestel?

Antwoord: Twee, naamlik die heilige doop en die heilige nagmaal.

Dis ‘n woord wat jy sekerlik net in die kerk hoor: “sakramente”. Maar dis seker nie snaaks nie. Luister maar na die definisie wat die HK daarvoor gee. Waar anders sou ‘n mens dan nou verwag om “heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het” raak te loop?

En daarmee saam het ons sommer klaar die eerste belangrike ding oor die sakramente gesê: dis sigbare tekens wat God self ingestel het. Dis nie goed wat die kerk self uitgedink het nie! Daarby erken ons kerk net twee sakramente (anders as byvoorbeeld die Roomse kerk, wat altesaam 7 sakramente vier. Hulle erken onder andere ook die bieg, die huwelik en die laaste oliesel – daardie seën wat hulle priesters aan sterwende lidmate gee). Soos ons die Bybel verstaan, is daar egter net twee sulke tekens wat die Here self gegee het: die doop en die nagmaal, en daaroor gaan die HK nou gesels.

Dit sê natuurlik ook iets van hoe belangrik die tekens is. Die eerlikes onder ons sal waarskynlik moet erken dat dit juis die oomblik in die erediens is wat ons gedagtes bietjie dwaal en ons so ‘n bietjie afskakel. Ons het mos nou al die bediening van die doop gesien. Buitendien is Nagmaalsondag ‘n goeie geleentheid om bietjie later te slaap, as die kinders nie in die kategese hoef te wees nie! Lees jy egter die antwoorde van Sondag 25, kom jy agter watter belangrike rol die sakramente in ons lewe behoort te speel. Die Here wil graag die sakramente gebruik om die geloof wat Hy deur sy Woord in jou geskep het, te versterk.

Die sakramente is dus in wese niks anders as sigbare Woordverkondiging nie. Dit help ons die Bybel beter verstaan. En dis ‘n baie effektiewe middel om dit te doen, want die Heilige Gees werk daardeur, om jou geloofoë oop te maak vir die groot wonders van die Evangelie. Wie van ons is nog nooit aangegryp deur die eenvoudige tekens van die Nagmaal, sodat Jesus se soendood vir ons nuwe betekenis gekry het, of deur die broosheid van ‘n klein babatjie wat die teken van die doop ontvang, wat niemand ooit weer van hom of haar sal kan wegneem nie?

As jy lanklaas die HK gelees het (wat waarskynlik die geval is!) sal dit jou opval hoe dit telkens na die heilige sakramente verwys. Hierdie is nie maar sommer net tekens om ligtelik op te neem, of so half by jou te laat verbygaan nie. Dit verdien jou volle fokus en aandag, want die almagtige God self werk deur dit met jou. Dis inderdaad heilige tekens…