2 November 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 26. Oor die doop

Oor die Heilige Doop

Sondag 26

Vraag 69: Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?

Antwoord: So: Christus het die uitwendige waterbad ingestel. Daarby het Hy beloof dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is  as wat ek uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam wegneem.

Vraag 70: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?

Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het. Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe.

Vraag 71: Waar het Christus ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?

Antwoord: Met die instelling van die doop wat soos volg lui: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees…” (Matt 28:19); en: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Mark 16:16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes noem (Tit 3:5; Hand 22:16).

Sondag 27

Vraag 72: Is die uitwendige, waterbad self dan die afwassing van die sonde?

Antwoord: Nee, want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes.

Vraag 73: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?

Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.

Vraag 74: Moet die jong kinders ook gedoop word?

Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is. Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes en die Heilige Gees wat die geloof werk, beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word. So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen  in die plek waarvan die nuwe Verbond die doop ingestel is.

Vandag wyk ons bietjie af van ons patroon tot dusver met die HK: ons gaan hierdie slag twee Sondae se vrae behandel – eenvoudig omdat dit ‘n eenheid vorm, want in hierdie twee Sondae kom die eerste van die twee sakramente ter sprake, naamlik die doop. Daarom gaan vandag se gesprek noodwendig ook bietjie langer as die ander wees, waarvoor ek sommer by voorbaat verskoning vra.

 

Wat is nou eintlik die waarde (betekenis) van die doop? is die HK se vertrekpunt. Heelwat later sal hy die punt benadruk dat die doop self jou nie red nie. Dis duidelik nie die waarde van die doop nie: Niemand gaan hemel toe omdat hulle gedoop is (groot of klein!) nie. Daar is net een enkele manier waarop ons gered kan word, en dit is alleen deur die bloed van Jesus, en niks anders nie – ook niks wat ons van ons kant af doen nie. Maar dit maak nie die doop onbelangrik nie. Die doop is juis gegee as ‘n sigbare herinnering aan die belofte van die Here. Daarin kan ons sien dat die bloed van Jesus ons reinig van al ons sonde, wanneer ons Hom in die geloof aanneem as ons Saligmaker. Dis dus wat die doop is: dis ‘n sigbare herinnering aan dit wat die Bybel vir ons leer, en daarom gaan dit (deur die werking van die Gees) ons geloof versterk elke keer as ons dit sien. En omdat God dit self ingestel het, is veel meer as net ‘n blote simbool: dis betroubaar en seker!

Daarmee benadruk die HK die simboliek van die doop: ons weet almal water is iets wat jou skoon was; net so was die bloed van Jesus (waarvan die doop simbool is) ons skoon van al ons sonde, sodat ons rein voor God kan staan. Daarom word jou naam hardop gelees as jy gedoop word: hierdie bloed is ook vir jou gestort. En elke keer as ons getuies van die doop is, herinner dit ons opnuut weer hieraan. Maar dit herinner ons ook daaraan dat dit ‘n voortgaande proses is: die Gees reinig ons steeds al meer, om al meer soos Jesus te kan lyk en lewe.

Een ding is seker: alhoewel dit nie die doop per se is wat ons red nie, is dit tog vir die Here ‘n baie ernstige saak. Hy openbaar na alles sy hart daarin vir ons! In die doop sien ons sy reddingsplan vir ons sigbaar gedemonstreer, in simboliek wat ons almal kan verstaan. En net soos die die Here ernstig is met sy genade-aanbod aan ons, so is Hy ook ernstig in die doop. Dis soos ‘n kontrak wat Hy met ons sluit, wat ons lewe lank (en daarna!) geldig bly. Hy verbind Homself om te doen wat Hy in die doop aan ons toegesê het. En ek hoef nie vir jou te sê nie – as God Homself aan iets verbind hoef jy regtig nooit weer daaroor te wonder nie.

Ten slotte bring dit dan die HK by die vraag wat ons ook in die doopformulier hoor, en vandag nog baie gereeld gevra word: Maar waarom dan kindertjies, terwyl ons tog weet hulle verstaan niks van wat gebeur nie? Die antwoord is eenvoudig: dis omdat God self van die begin verkies het om so met mense te werk. Van die begin af sluit Hy kindertjies in wanneer Hy ‘n ooreenkoms (verbond) met iemand aangaan. God werk nie met mense in isolasie nie. Hy werk deur jou ook met jou lewensmaat, en met jou gesin. Daarvan was die besnydenis mos duidelik teken (dis mos op die agtste dag gedoen), want dis hoe God werk – vandag nog. Hy wag ook nie tot jy groot genoeg of slim genoeg is om mee te werk nie. Hy self steek in genade die heel eerste sy hand na ons toe uit.