8 November 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 27. Oor die nagmaal (i)
Oor die Heilige Nagmaal
Sondag 28
Vraag 75: Hoe word jy in die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?.
Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy beloof, Ten eerste, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word. Ten tweede, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.
Vraag 76: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?
Antwoord: Dit beteken nie slegs om met ‘n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie. Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word, dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is; al is Christus nou in die hemel en ons op die aarde. Dit wil se dat ons deur een Gees – soos die ledemate van die liggaam deur een siel – ewig lewe en geregeer word.
Vraag 77: Waar het Christus beloof dat Hy die gelowiges so seker met sy liggaam en bloed sal voed en verkwik as wat hulle van hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie beker drink?
Antwoord: By die instelling van die nagmaal wat soos volg lui: “In die nag waarin Hy verraai is, het die Here Jesus brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: `Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete met die woorde: Hierdie beker is die nuwe vtestament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle van hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor 11:23-26). Hierdie belofte word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: “Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood” (1 Kor 10:16, 17).
‘n Week of so gelede het ons daaroor gepraat dat die sakramente eintlik niks anders as sigbare woordverkondiging is nie. Daardeur wil die Here ons herinner aan die groot waarhede van die Bybel, sodat dit al hoe groter betekenis vir ons kan kry. Verlede week het ons gesien hoe dat dit van die doop waar is; vandag gesels ons oor die Nagmaal. En ook die Nagmaal praat Bybelse taal. Die brood vertel ‘n storie: net soos die koringkorrels vergruis is om die meel te vorm waarmee die brood gebak is, net so is die liggaam van Christus vir ons gebreek, sodat ons verlos kan word. En dieselfde van die wyn: Die druiwekorrels is met geweld gepars om die sap daaruit te haal wat later die wyn sou word, en net so het sy bloed gevloei vir ons. Die tekens vertel dus dieselfde verhaal as die Bybel: dat Jesus Homself vir ons gegee het.
Wat die Nagmaal natuurlik so wonderlik maak, is dat die tekens deel van jou word, nadat jy dit ontvang het. Jou liggaam absorbeer dit. Op dieselfde manier kry ons ook deel aan die verlossingswerk van Jesus: dis nie maar net iets buite ons, waarvan ons kennis kan neem nie. As jy in Jesus glo, word jy deel daarvan. Dan word Jesus se dood aan die kruis ook jóú dood, sodat jy agterna dood is vir die sonde, en sy opstanding word ook jóú opstanding, sodat jy ‘n nuwe lewe as kind van God kan lei.
Jy doen dus méér as om net ‘n stukkie brood en ‘n slukkie wyn (druiwesap) uit die hand van die liturg wat die instellingswoorde gesê het te neem en te eet en drink. Dis ‘n simboliese handeling. Eintlik ontvang jy die liggaam van Christus, wat vir jou geoffer is, en neem jy sy genade-aanbod aan. Dis dus geen wonder dat die Kategismus telkens na die heilige Nagmaal verwys nie! Dis inderdaad ‘n heilige oomblik, waarin jy jouself opnuut aan die Here wy. Nou verstaan jy ook hoekom Paulus so ernstig waarsku teen ‘n ligsinnige gebruik van die Nagmaal. Dis vir die Here ‘n ersntige saak.
En daarmee saam verstaan jy ook hoekom hierdie eenvoudige “maaltyd” so ‘n wonderlike effek op ons as gelowiges het, om ons te versterk vir die uitdagings wat elke dag vir ons as gelowiges op die lewenspad wag. Want wanneer jy jouself in so ‘n heilige oomblik aan die Here wy, kom neem sy Heilige Gees oor, en versterk jou in jou geloof. Hy kom bind jou opnuut aan die Here, sodat jy steeds met al meer oorgawe vir die Here kan lewe. Maar dan kom Hy ter selfder tyd ook en bind ons wat dit so saam gebruik, aan mekaar. Hy maak van ons ‘n familie om die tafel van die Here. Nou verstaan jy hoekom ons altyd sê daar gebeur ‘n wonderwerk aan die Nagmaalstafel, want dis vir seker iets wat net die Gees van God kan doen: Hy maak van ons een liggaam, een met mekaar en een met Christus!