2 Februarie 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 3. Daardie wonderlike vraag 1…
Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.
Sommer met die intrapslag hoor jy al presies hoekom ons mense vandag sukkel om die Kategismus te verstaan. Want wie van ons sal vandag sommer uit die bloute iemand vra wat sy “enigste troos” is? Hy gaan nie weet waarvan jy praat nie, want ons praat mos nie meer so nie! Maar dit maak nie hierdie vraag of sy antwoord irrelevant nie. Inteendeel – dit het nog niks van sy betekenis verloor het nie. Al wat jy moet weet, is dat die HK die woord “troos” bietjie anders gebruik as waaraan ons gewoond is. As die Kategismus vra: Wat is jou enigste troos? bedoel hy: wat gee jou lewe sin? Wat maak jou lewe die moeite werd? En duidelik praat hy nie net van ‘n tydelike “troos” nie, maar van iets wat vir ewig is, wat selfs die dood nie van jou kan wegvat nie.
Die antwoord is kort en klaar: Dat ek aan Jesus behoort. Dis waarom die totale Christelike lewe draai: ek behoort nie meer aan myself nie, en hoef daarom nie meer vir myself te sorg nie. Ek behoort met my hele wese (“liggaam en siel”) aan die Here wat my duur gekoop het, my vrygemaak het uit die mag van die duiwel, en my bewaar. En boonop nou deur die Gees in my woon en my lei.
Hy laat my nêrens op hierdie pad aan myself oor nie. Hy self het die volle prys vir my betaal; Hy beskerm my in elke situasie. Daarom hoef ek vir niks bang te wees nie, nie vir die dood of die mag van Satan nie, en nie vir enigiets wat met my kan gebeur nie. Hy gebruik na alles elke dingetjie wat met my gebeur (ook die slegte goed – onthou, ons lewe steeds in ‘n gebroke wêreld) om my steeds nader aan Hom te trek, en my geestelik te laat groei. So bind Hy my elke dag aan Hom, en werk deur sy Gees hierdie seker wete in my, dat ek sy kind is, en veilig is by Hom.
Vraag 1 van die HK is een van die heel kosbaarste skatte van die kerk. In ‘n neutedop, verklaar ek daarmee waaroor alles vir my gaan: ek behoort nie meer aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus…
In eenvoudige Afrikaans: Wat gee jou lewe sin?
Antwoord: Die wete dat ek nou en vir ewig aan die Here Jesus behoort!
Ns. Die Kategismus bevat ook volledige teksverwysings vir al sy antoorde. Weens ‘n tekort aan spasie herhaal ek dit nie alles hier nie, maar jy kan die volledige belydenisskrif hier aflaai: http://www.ngkerk.org.za/belydenis.