16 November 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 28. Oor die nagmaal (ii)
Sondag 29
Vraag 78: Verander die brood en wyn dan in die werklike liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: Nee, maar soos die water by die doop nie in die bloed van Christus verander of die afwassing van sonde self is nie, maar slegs ‘n Goddelike teken en versekering daarvan, so verander die brood by die nagmaal nie in die liggaam van Christus self nie. Ooreenkomstig die aard en gebruik van die sakramente word die brood egter die liggaam van Christus genoem.
Vraag 79: Waarom noem Christus dan die brood sy liggaam en die beker sy bloed of die nuwe Testament in sy bloed en waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: Daar is gewigtige redes waarom Christus so sê: Hy wil ons daarmee leer dat, soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel en drank, ons siele vir die ewige lewe. Verder wil Hy ons deur hierdie sigbare tekens en waarborge veral verseker dat ons net so seker deur die werking van die Heilige Gees aan sy ware liggaam en bloed deel kry as wat ons hierdie heilige tekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang. Hy verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons eie is asof ons self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten volle betaal het.
Dit was een van die groot vrae rondom die Nagmaal in die tyd van die Hervorming, waaroor selfs die Hervormers nie regtig saamgestem het nie. Wat gebeur nou eintlik in die Nagmaal? Hoe letterlik moet ons vir Jesus opneem as Hy sê: “Dit is my liggaam”? Die Roomse kerk, waarteen die Hervormers reageer het, het geleer dat die broodjies letterlik verander in die liggaam van Jesus, en die wyn in sy bloed (“transubstansiasie” het hulle dit genoem). Daarom mag jy as gewone lidmaat nie met jou sondige hande gevat het aan die broodjies nie – die priester het dit bo-op jou tong geplaas. Jy kan immers nie raak aan die liggaam van die Here nie!
Dis nie regtig wat die Bybel leer nie. Net so min soos die water van die doop letterlik verander in die bloed van Jesus (waarvan dit mos ook teken is) net so min verander die tekens van die Nagmaal regtig van wese. Dit bly brood en wyn. Dis immers nie die tekens self wat belangrik is en wat ons red nie, maar dit waarvoor hulle staan. Dit is immers wat op die ou end ons saligheid verseker: die bloed van Jesus Christus. Maar tog het die Gereformeerde Hervormers ook van iemand soos Zwingli (‘n ander Hervormer) verskil, wat gemeen het dat die tekens net simboliese waarde het. Dat dit ons net herinner aan die soendood van Jesus. Daarteenoor glo ons dat dit sakramente bly wat God self ingestel het, en waardeur Hy op ‘n wonderlike, bo-natuurlike manier met ons werk. Daarom is dit opvallend dat die HK telkens spesifiek verwys na die heilige Nagmaal. Daar gebeur méér in die Nagmaal as blote herinnering. Dis ‘n baie, baie spesiale geleentheid…
Wat gebeur dan in die Nagmaal? Deur die Nagmaal kom die Here deur sy Heilige Gees en versterk ons in die geloof, en ons loop daar uit met die seker wete dat ons ook deel het aan die offer van Jesus. Ons loop daar uit as bevryde mense, versterk om met nuwe ywer vol-uit vir die Here te gaan lewe! Deur die werking van die Gees word hierdie eenvoudige tekens vir ons geloofswaarborge, wat ons verseker dat die die Here regtig ernstig is met ons. Deur die werking van die Gees word ons wat dit saam geniet, opnuut aan Jesus gebind, en ook ter selfder tyd opnuut aan mekaar verbind, as familie van die Here. Dit wat in die Nagmaal gebeur, is niks minder as ‘n wonderwerk nie!