23 November 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 29. Oor die nagmaal (iii)
Sondag 30
Vraag 80: Wat is die onderskeid tussen die nagmaal van die Here en die Roomse mis?
Antwoord: Die nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons sondes het, ter wille van die enige offer van Jesus Christus wat Hy self eens en vir altyd aan die kruis volbring het, en dat ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf word, wat nou na sy menslike natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader is en daar deur ons aanbid wil word. Die Roomse mis, daarenteen, leer dat die lewendes en die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word. Verder dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is en derhalwe daarin aanbid moet word. Die mis is dus in wese niks anders nie as ‘n verloëning van die enige offer en lyding van Jesus Christus en ‘n afgodery wat vervloek is.
Vraag 81: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?
Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes ‘n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink ‘n veroordeling oor hulleself.
Vraag 82: Moet die mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?
Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek. Daarom is die Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.
Die eerste vraag waarby die HK vandag stilstaan, is dalk nie so vreeslik relevant vandag meer vir De Eike se lidmate nie, maar vir die Gereformeerdes wat destyds almal in die Roomse Kerk grootgeword het, was dit ‘n uiters relevante vraag: die vraag na die verskil tussen die Nagmaal en die mis. Die groot verskil, sê die HK, lê by die twee kerke se verstaan van die verlossing van sondes in Jesus Christus. Die Roomse kerk bely dat ons die mis nog daagliks nodig het, aangesien die bloed van Jesus ons nie vir eens en altyd vry kan maak van sonde nie. Ons het dus nodig dat sy genade gereeld aangevul moet word in ons lewe, en dis wat die mis doen, volgens hulle. Dis ‘n offer wat die priester namens ons bring. Daarteenoor het die Hervormers gesê dat dit hoegenaamd nie is wat die Bybel sê nie. Die eenmalige offer van Jesus aan die kruis was genoegsaam en finaal. Daar is geen verdere offers vir ons sonde nodig nie. Die Nagmaal herinner ons net daaraan, dat ons uit dankbaarheid sal bly lewe, en versterk ons deur die Gees om ons daartoe in staat te stel om naby aan die Here te lewe.
Die tweede vraag is dalk vir ons veel meer relevant: wie is welkom aan die tafel van die Here? Ek het al dikwels lidmate teengekom wat só bang is hulle drink ‘n oordeel oor hulleself, dat hulle eerder wegbly van die Nagmaal af. Dis vir seker nie die Here se bedoeling met die instelling daarvan nie! Die Nagmaal is vir sondaars bedoel (sondeloses het seker nie versterking nodig nie) – maar dan mense wat ten spyte van al hulle tekortkominge tog erns maak met die Here en vir Hom wil lewe. Maarten Luther noem dit mos “’n maaltyd vir bedelaars” – vir mense wat weet dat hulle niks verdien nie, maar tog net oorwedig deur dankbaarheid, dit van God ontvang. En soos Luther tereg net voor sy dood geskryf het: “Ons is almal bedelaars – en dit is die waarheid…”
Die Nagmaal is egter ook ‘n geleentheid van selfondersoek, en ons as kerk moet nie net onsself as indiwidue ondersoek nie, maar ook ons as geloofsgemeenskap, dat ons nie oogluikend goed in ons midde toelaat wat die eer van die Here aantas nie. Daarom moet ons mekaar steeds aanmoedig om tot eer van die Here te lewe, en ook aanspreek as dit nodig is.