30 November 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 30. Oor die tug

Sondag 31

Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.

Vraag 84: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ‘n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie. Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.

Vraag 85: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog ‘n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys.

In die laaste Sondag van die tweede deel van die HK (Onthou jy die driedeling Sonde – Verlossing – Dankbaarheid?) kom herinner die Kategismus ons daaraan dat die Evangelie twee kante het. Aan die een kant is dit inderdaad “Goeie Nuus” van verlossing en genade vir hulle wat dit aanneem, maar aan die ander kant verteenwoordig die Evangelie ook die oordeel van God oor hulle wat hulle daarteen verhard en weier om na Hom te luister. Wanneer die Woord met ander woorde verkondig word, is dit soos ‘n sleutel: dit kan vir jou die hemel oop- of toesluit. Dieselfde geld vir die sakramentsbediening, wat jy mos nou al weet niks anders as sigbare Woordverkondiging is nie. Jou reaksie op hierdie twee maniere wat God tot ons nader, bepaal jou ewige bestemming.

Aan die een kant wys dit natuurlik vir ons hoe ernstig God is met die goeie nuus wat Hy aan ons bring. Jy maak ‘n fout as jy meen dat sy grenslose genade meen dat Hy ook verlief daarmee sal neem as jy sy aanbod minag en ignoreer. Ons God is inderdaad ‘n verterende vuur, soos die Bybel ons so duidelik herinner.

Aan die ander kant het dit natuurlik ook ernstige implikasies vir ons eie lewe. Selfs ons wat glo, moet onsself afvra of ons lewensstyl getuig van die erns waarmee ons die Woord van God moet bejeën. Gedra jy jou soos iemand wat oorweldig is deur die genade van God, en ‘n nuwe lewe lei deur sy genade? Of dien jy Hom maar halfhartig en ongeërg, so heeltemal anders as wat Hy op ons ingestel is?

Daarby impliseer dit ook dat ons die sonde met mag en mening moet bestry. In ons eie lewe, natuurlik. Ons mag nooit vrede maak daarmee dat ons lewe nou maar eenmaal onvolmaak is, en laks raak in ons weerstand teen die duiwel en die sonde nie. Ons mag dit ook nie duld om ons, in die gemeente en in die samelewing nie. Ons het in die verband ook ‘n baie groot verantwoordelikheid teenoor die gemeente. Ons mag nie toelaat dat die Satan ons getuienis afwater, deur oogluikend toe te laat dat die sonde onder ons kom nesskop nie. Daarom het jy by jou belydenisaflegging al destyds ook belowe dat jy jou “onderwerp aan die opsig en tug” van die gemeente. Ons mag – nee ons moet – mekaar aanspreek as ons sien dat ‘n broer of suster die pad byster geraak het. En as hy of sy weier om gehoor te gee, kan hy nie meer deel van ons gemeente wees nie. Dit gaan immers oor ‘n baie groter saak as onsself!

Maar dit gebeur dan nooit meer nie, hoor ek dikwels lidmate kla. Dis natuurlik nie waar nie. Die punt is juis dat tug op baie vlakke beoefen moet word, beginnende met wanneer ons aangespreek word in die Woordverkondiging, en in privaat gesprekke. Tug is baie méér as die afsnyding van mense uit die gemeente – iets wat net in baie ekstreme gevalle gedoen word, en nadat ons ‘n lang pad met die persoon geloop het.