16 Februarie 2018
Die Heidelbergse Kategismus: 5. Ons Bron van kennis oor onsself
Deel 1: Oor die mens se ellende, Sondag 2
Vraag 3: Waaruit ken jy jou ellende?
Antwoord: Uit die wet van God.
Vandag se vraag is een van die kortstes in die hele HK. Maar dit maak dit nie minder belangrik as die ander nie! Dis ‘n verskriklik belangrike vraag. Ons het reeds gehoor dat die eerste ding wat jy moet weet, is “hoe groot jou sonde en ellende is”. Dit is die vertrekpunt van jou lewe, wat jou op die pad sit na ware lewensgeluk en ewige saligheid. Maar hoe gaan jy dit weet? Is nou die volgende logiese vraag.
Die antwoord is weereens verstommend eenvoudig. Jy gaan agterkom dat jy vir Jesus nodig het, as jy jou Bybel lees. Vergeet maar van Introspeksie en selfondersoek op sigself – dit gaan jou nie daar bring nie, want ons oordeel is deur die sonde aangetas. Dis net as jy die Woord lees, wat die Heilige Gees dit vir jou soos ‘n spieël ophou waarin jy jouself kan sien soos God jou sien. Dis al manier: Jy leer jouself regtig ken uit die Bybel. Die hele Bybel, natuurlik. Maar daar is tog ook ‘n spesifieke gedeelte van die Bybel wat dit selfs nog duideliker uitspel. En dit is Die Wet van God. God het sy wet vir ons gegee om ons na Jesus te lei! Daarom noem Galasiërs 3:24 die wet ons “Tugmeester na Christus toe” (1953-vertaling) noem. Die tugmeester was die slaaf wat kindertjies aan hulle handjies skool toe gevat het. So wys die wet ons wie ons is, en hoe nodig ons vir Jesus het.
Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
Dit roep die volgende vraag op: wat vra die wet dan nou eintlik van ons? Weer is die antwoord baie eenvoudig. Jesus sê self in Matt. 22: Jy moet liefhê. God bo alles, en ons naaste soos onsself.
In ‘n neutedop: ‘n mens kom agter jy het Jesus regtig nodig wanneer jy die wet lees. Daar ontdek jy hoe ver jy kortkom van God se ideaal vir ons. En net dáár begin ‘n nuwe lewe vir jou. Van nature is ons as mense almal in ons wese selfsugtig. Maar gelukkig verander dit alles as jy ‘n kind van God word. Dan begin die Heilige Gees dadelik met die wonderlike proses om sy vrug in ons te dra – en so kan ek en jy ook begin liefhê! Dis mos waarvan Galasiërs 5 ons vertel: daardie wonderlike vrug van die Gees, wat eintlik in één woord LIEFDE is.
Hiermee leer die kategismus ons dan ook sommer dat hierdie nie ‘n eenmalige oefening kan wees nie: ons moet onsself ons lewe lank telkens weer meet aan die wet, omdat ons nog nie volmaak is nie. Ons is steeds op pad. Ons is (hopelik!) nie meer so liefdeloos en selfgerig soos heidene nie, maar ons bly maar nog steeds baie op onsself ingestel. Daarom moet ons die proses waardeur ons vernuwe word, daagliks herhaal. Ons ontdek daagliks hoe nodig ons die bloed van Jesus het, wanneer ons onsself in sy wet spieël!
In eenvoudige Afrikaans: Waar leer ons dat ons vir Jesus nodig het?
Antwoord: In die wet van die Here, met sy eis van volmaakte liefde, waarin ons onsself spieël.