22 Februarie 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 6. ‘n Onmoontlike saak…

 Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom?

Antwoord: Nee want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.

Sjoe, die antwoord op vraag 5 van die HK klink darem kras! Dit klink regtig of die Kategismus ons net ‘n klein trappie bokant die duiwel self stel. Jy kan dalk wonder of dit darem regtig waar is? Wil hy daarmee sê dat alle ongelowiges sonder Jesus vreeslike, haatlike mense is – dis tog vir seker nie hoe ons hulle altyd ervaar nie!

Maar wag, dan onthou ons mos darem dat die Bybel ook soms in hiperbole praat wanneer dit ‘n gedagte met groot klem wil oordra. Dink byvoorbeeld aan die keer wat Jesus vir ons probeer laat verstaan het dat niks of niemand vir ons belangriker as God mag wees nie. Hy sê daar in soveel woorde dat jy kan nie sy volgeling kan wees as jy nie jou ouers haat nie. Jesus doen eintlik hier dieselfde wat my ma altyd gemaak het as sy vir my sê sy het my al duisend keer gewaarsku. Jesus gebruik sterk taal om sy punt te maak – en dis presies wat die Kategismus ook doen!

Wat jy hierin moet hoor, is dat dit vir die natuurlike mens heeltemal onmoontlik is om regtig God en sy naaste lief te hê. Hy het immers geen erg aan God nie! Selfs al het jy in die kerk grootgeword, kan jy Hom net regtig liefhê as jy jou lewe aan Hom gegee het en Hom die onbetwiste Koning van jou lewe gemaak het. Anders bly jy eintlik maar net op jouself ingestel – jy sal dit nooit regkry om terug te staan en vir jou naaste die beste deel te gun nie.

“Van nature”, soos die Kategismus sê, is dit dus vir ons totaal onmoontlik om te lewe soos God in sy Woord (en wet) van ons vra. Jy gaan dit nooit regkry nie! Daar moet eers ‘n wonderwerk in jou lewe gebeur  wat dit enigsins moontlik gaan maak (en selfs dan, weet ons, bly dit maar ‘n stryd). Om weer vir Paulus aan te haal: “Almal het gesondig en is ver van God af…”

Daar word soms gemaak asof die Gereformeerde leer te veel ingestel is op ons sondebesef, en daarom ‘n morbiede, donker prentjie van Christen-wees skep. Niks kan verder van die waarheid af wees nie! Onthou, hierdie is nog maar die vyfde vraag van die Kategismus. Ons het pas begin! Maar hierdie wel die vertrekpunt waar elke mens se reis saam met God moet begin. Jy moet verstaan dat jy nie kan lewe soos God vra nie. Jy kan nie jou eie saligheid verdien nie. Nie eens amper nie!

In eenvoudige Afrikaans: Gaan jy self regkry om te lewe soos God vra?

Antwoord: Vergeet daarvan! Ons kan dit net regkry as God ons lewe verander het.