2 Maart 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 7. Maar wat nou?

Sondag 3

Vraag 6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?

Antwoord: Nee, God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte  kon liefhê en saam Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.

Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan?

Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys. Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

Vraag 8: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?

Antwoord: Ja, behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word.

Dit wys net hoe diep die mense verderf is deur die sonde, dat ons eerste reaksie wanneer ons hoor van ons sondige natuur, die vraag hierbo is: Maar het God my dan nie so gemaak nie? Want as Hy my so gemaak het, is dit mos sy skuld dat ek sonde doen, en nie my eie nie! ‘n Goeie argument, behalwe vir een vangplek: die Bybel sê uitdruklik dat God die mens, soos die res van sy skepping, goed gemaak het. Hy het ons so gemaak dat ons Hom van nature sou dien en liefhê. Sodat ons altyd in ‘n wonderlike verhouding met Hom sou lewe.

Maar toe het die mens anders gekies. In plaas daarvan om elke oomblik daarvan te geniet vir altyd en altyd, het die mens gekies vir opstand en ongehoorsaamheid. En net daar, sê die HK, het “ons natuur verdorwe geraak”. Ons het in ons wese sondaars geword. Dis hoe ons is, en dis hoe die nageslag is wat ons voortbring. Die sonde het onlosmaaklik deel van ons DNA geword…

Is dit dan hoe die storie van die mens eindig? vra die HK voorts. Beteken dit dat ons dan regtig nooit weer enigiets goed sal kan doen nie, en vir altyd die sonde sal dien? Ja en nee. Ja, want dit is nou eenmaal hoe ons gebore is. En nee, want toe kom Jesus Christus tussenbeide, en skenk die wedergeboorte aan elkeen wat glo in Hom. In Jesus kan jy dus letterlik van voor af begin – en dan nie as verdorwe sondaar nie, maar as kind van God. Jesus het nie alleen gesterf sodat ons vergewe kon word vir alles wat ons al in die verlede gedoen het nie. Nog wonderliker: Hy het ons totaal kom herskep! Ons is nuwe wesens. Hy het ons ook van ons sondige aard verlos, sodat ons nie meer die res van ons lewe slawe daarvan sou wees nie…

Daar is geen manier waarop ek en jy kan begin om die omvang van dit wat die HK hier sê, te verstaan nie. Wat ons wel daarvan begryp, maak die omvang van ons verwondering in hierdie lydenstyd net nog oneindig groter. Jesus het ons nie net wit kom was deur sy bloed nie. Hy het ons diepste wese kom herskep. Ons is inderdaad ‘n nuwe skepping!

In eenvoudige Afrikaans: Vraag 6-7: Is ons mense dan ewig verdoem, omdat ons in ons diepste wese so verdorwe geword het as gevolg van die sonde?

Antwoord: Goddank, Nee! God het ons totaal kom vernuwe in Jesus Christus, sodat ons nou sy kinders kan wees!