9 Maart 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 8. Só erg is die sonde…

 Sondag 4

Vraag 9: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?

Antwoord: Nee, want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen. Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.

Vraag 10: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?

Antwoord: Nee, glad nie; inteendeel, sy toorn is verskriklik sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen: Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met ‘n regverdige oordeel straf. Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.

Vraag 11: Is God dan nie ook barmhartig nie?

Antwoord: God is wel barmhartig; maar Hy is ook regverdig. Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is; ook met die swaarste straf gestraf moet word – dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.

Sondag 4 bring ons by die einde van die eerste deel van die Kategismus (‘n vinnige herinnering: die Kategismus bestaan uit 3 dele: oor Sonde, Verlossing en Dankbaarheid onderskeidelik). Maar vir oulaas, terwyl ons nou nog praat oor die sonde wat so onlosmaaklik deel van die mens se DNA geword het, is dit asof die HK nog eers weer duiwelsadvokaat wil speel. Maar wag, sê hy. Is dit dan nie onregverdig van God om van ons iets te vra wat Hy tog weet ons nie kan doen nie?

Glad nie! So maklik gaan ons nie die vinger na Hom kan wys, en onsself verontskuldig nie. Die fout lê nie by God nie, want dis nie Hy wat ons so gemaak het nie. Ons het onsself so gemaak! Dis ons wat bewustelik teen God gekies en eerder Satan se raad gevolg het. As dit nie daarvoor was nie, sou daar nooit ‘n probleem gewees het nie. Verskonings sal niks help nie. Terloops, dit sal ook nie help jy wys die vinger na Adam en Eva nie (al sê die HK niks daaroor hier nie). Want jy self herhaal daardie selfde verkeerde keuse daagliks op dosyne maniere. Ons kan die feit net sowel vierkantig in die oë kyk: die mens is in sy diepste wese ‘n sondaar. Verlore sonder God…

Maar wag, wil die sondige mens dan nou eers weet. Kan God dit nie maar sommer net alles deur die vingers sien nie? Hy is tog barmhartig en genadig. Wat is nou makliker as dat Hy net vergeet daarvan? Weereens wys dit maar net hoe vermetel die mens is – om te dink jy kan een aspek van die almagtige God afspeel teen die ander. Natuurlik is Hy ‘n barmhartige God, wat graag vergewe. Maar Hy is ook die Heilige, wat nie vrede maak met sonde en onreg nie, en wat staan by wat Hy gesê het. Hy het ons aan die begin gewaarsku dat Hy sonde sal straf, en Hy sál. Hy gaan nooit terug op wat Hy gesê het nie. Hy sal eerder self die offer vir ons sonde voorsien, as om ontrou te wees aan sy Woord.

Op die ou end staan een ding soos ‘n paal bo water: en dis hoe erg sonde is. Dis besmetlik en boos. En die mens het daarmee sy eie toekoms vernietig. Selfs ons wat God se kinders is, sukkel millennia na Adam steeds met die spore wat dit in ons gelaat het.

In eenvoudige Afrikaans: Kan God nie maar net die sonde ignoreer sodat ons kan aangaan nie?

Antwoord. Nee. Want dan sou Hy self vrede maak met sonde, en nie werklik God wees nie