15 Maart 2018

Die Heidelbergse Kategismus: 9. Hoe gaan ons dan verlos word?

Sondag 5

Vraag 12: Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?

Antwoord: God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word. Daarom moet ons òf deur onsself òf deur      ‘n ander ten volle betaal.

Vraag 13: Kan ons deur onsself betaal?

Antwoord: Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter.

Vraag 14: Kan enige ander skepsel vir ons betaal?

Antwoord: Nee, want ten eerste wil God aan geen ander skepsel die skuld straf wat die mens gemaak            het nie. Ten tweede kan geen gewone skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde          dra en ander skepsels daarvan verlos nie.

Vraag 15: Hoe ‘n middelaar en verlosser moet ons dan soek?

Antwoord: So een wat ‘n ware en regverdige mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit           wil sê wat terselfdertyd ware God is.

Vandag se vrae lei die tweede deel van die Heidelbergse Kategismus in. Tot dusver het die opstellers daarin geslaag om vir ons uit die Bybel sonder enige sweempie van twyfel te bewys dat die mens skuldig staan voor God. Ons is sondaars wat sy oordeel dubbeld en dwars verdien. As die eerste deel van die HK vir ons wou bewys “Hoe groot ons sonde en ellende is” het hy vir seker daarin geslaag! Maar nou breek die tweede deel aan, en die opstellers val sommer met die deur in die huis: Is daar enige manier waarop ons die oordeel aan God kan ontvlug? Hoe gaan ons verlos raak daarvan?

Vraag 12 sê sommer reguit, iets wat jy lankal weet: skuld moet betaal word. God kan en sal nie maar net teruggaan op sy woord en maak asof Hy dit nie gesê het nie. Ons sondeskuld is ‘n werklikheid en iemand sal daarvoor moet betaal.

Maar wie? Onsself, dalk? Nee wat. Hoe kan ons dit betaal as ons net nog daagliks daar byvoeg? Ons sal nooit in ewigheid ons skuld kan betaal nie. Daarby help dit ook nie ons kyk na enigiets anders wat God gemaak het nie. Jou ouers kan dit nie vir jou betaal nie, want hulle is self sondaars. Selfs die diere van die skepping gaan gebuk onder die las van die sonde. Hulle kan jou ook nie help nie.

Nou begin dinge darem regtig vir die mens baie donker lyk. Hy kan homself nie verontskuldig nie, want hy het vir seker God se wet oortree. Hy staan blootgestel in die oordeel van God. Vandaar die amper desperate kreet van vraag 15: As niemand ons kan help nie, waar gaan ons dan iemand kry wat wel kan? Watter soort Middelaar het ons nodig, wat ons weer met God kan versoen en ons sonde kan wegneem?

As jy op ‘n maklike antwoord gehoop het, is ek jammer. Want dinge raak nou selfs meer ingewikkeld. Om mee te begin sal daardie middelaar sonde enige sonde moet wees – wat onmiddellik almal wat jy ken, uitsluit. En wat dit nog moeiliker maak, is: hy moet ook ‘n egte mens wees. ‘n Engel of god kan tog nie namens jou intree nie. En tog, aan die ander kant, kan geen mens voor God gaan staan om jou saak te stel nie. Om dit te kan doen, sal jou middelaar ook waarlik God moet wees.

Waar gaan jy só ‘n iemand kry?