16 Februarie 2018
Op my rak staan ‘n baie dik boek met die titel: “Dictionary of the Christian Church”. Kom ek stel hom aan die woord: “Aswoensdag is die eerste dag van die Lydenstyd (Engels = Lent). Dit word so genoem in navolging van die gebruik van die vroeë kerk en later ook die Rooms Katolieke Kerk om aanbidders se voorkoppe met as wat vooraf gewy is, te merk. Dit is al gevier in die sewende eeu en die gebruik om die as op lidmate te smeer kom waarskynlik uit die agste eeu. Die ritus gryp terug op die OT waarin die gooi van as op jou kop ‘n teken was van berou en rou.
In die vroeë kerk is lidmate wat onder tug was, op Aswoensdag kans gegee om berou te toon en boete te doen, sodat hulle hertoegelaat kan word tot die gemeente voor die Heilige Week (net voor Paasnaweek) begin. Van na die Middeleeue is die gebruik uitgebrei na alle lidmate. Die as is verkry van palms wat op Palmsondag (net die vorige Sondag, waartydends Jesus se Intog in Jerusalem herdenk is) gebrand is. Dis dan op gelowiges se koppe geplaas met die woorde: Onthou, o mens, dat jy stof is en tot stof sal terugkeer”. Aswoensdag het ook die 40 dae vastyd ingelui wat eers met Pase eindig.
Die Hervormers het Aswoensdag afgeskaf, maar vandag maak dit in baie kerke ‘n terugkeer. Soos die res van die lydenstyd, is dit ‘n tyd van nuwe toewyding en stilte voor die Here, oorweldig deur wat ons verlossing Hom gekos het. Mag dit vir jou ook ‘n besonder geseënde tyd wees!
Ns. Net so terloops, die Dinsdag voor Aswoensdag word in baie lande gevier as “pannekoekdag”. Dan is dit die gebruik dat jy lekker fees vier met pannekoeke voordat die 40 dae vastyd aanbreek. In sommige lande word dit ook as karnavaldag gevier, voordat die somberheid van die lydenstyd begin…