19 Junie 2020

Elke jaar sê ek vir myself: “Hierdie belydenisklas is puik!” Vanjaar sê ek dit weer! Die 2020 belydenisklas bestaan uit besondere jongmense met soveel gawes. Daar is ’n energie wat my stil en dankbaar laat. Dankie aan ons ouers wat hierdie jongmense opvoed en voorberei vir die lewe. Dalk wonder jy hoe ons tans die klas aanbied. ZOOM is die oplossing! Sondagaande kom ons virtueel bymekaar en gesels oor geloofsake en kuier heerlik saam. Soos ek al by vorige geleenthede gesê het: Ons is weens die pandemie fisies verwyderd van mekaar maar kinders van die Here handhaaf nie sosiale afstand nie. In Jesus is ons naby mekaar.

Ek het vir die jongmense gevra om hulle harte op papier te plaas. Wat beleef hulle tans in hierdie tyd van afsondering? Lees tussen die reëls en hoor hulle harte:

1. Daar is baie dinge om voor bang te wees. Of dit nou haaie, spinnekoppe of selfs die donker is, dis vrese wat maklik ons gedagtes oorneem. Die afgelope tyd het ‘n onsigbare monster ons bekende wêreld op sy kop gedraai. Die vrees vir die onbekende uitkoms van hierdie virus het ons almal stil laat raak. ‘n Mens raak gou verlore in vrese en vrae. In die tussentyd staan tyd nie stil nie. As tiener probeer jy jouself nog vind. Jy dink deurentyd aan jou toekomstige beroep, waarvoor daar nou al van jou verwag word om goeie punte vir universiteitsvrystelling te kry. Alles lyk op hierdie stadium na ’n groot gemors en boonop probeer jy nog in beheer wees en onafhanklik voorkom. Kry ek dit reg? Ek dink nie so nie. Ons is nog so afhanklik. Jy moenie jouself probeer vind nie, want jy is te deurmekaar en vol probleme. Jy gaan net meer verlore raak. Die Here weet presies wie Hy wil hê jy moet wees. Hy het ‘n wil vir jou lewe. Sy wil. Jy moet net jouself oorgee aan Hom, Hom totaal vertrou en jy sal ‘n ander mens wees. Ek mis my vriende. Ek mis die skool en die kerk. Ek mis my koor en hokkie. Maar Jesus Christus is groter as enige virus. Hy ken al die antwoorde op al my vrae. Sy liefde oorwin alle vrese. Ek is so bly ek ken vir Jesus.

2. Ons het baie as vanselfsprekend aanvaar. Elke kerkdiens, skooldag, asook ons gesondheid en selfs elke glimlag. Voor die pandemie, was die lewe ‘n gejaag. Ons was so besig, daar was nie tyd om asem te skep en rustig te raak saam met die Here nie. ‘n Fisiese en geestelike moegheid het ons oorval en meteens het alles tot stilstand gekom. Ons het met gans teveel tyd op ons hande gesit. Tyd om te herlaai en om stil te raak. Hierdie tyd was wel nie so maklik nie. Ons mag nie ons vriende en familie sien nie. Ons vrees vir die gesondheidskwessie. Mense lewe in angs oor hul finansies en kinders raak bekommerd oor die skooljaar. Hierdie is nie ‘n maklike tyd nie, maar dis ‘n tyd om uit te reik na Jesus. Ons moet ons hande na Hom uitstrek en God sal ons deur hierdie moeilike tyd dra. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak al julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” Fil 4:6

3. Hierdie is vir elkeen ‘n uitdagende tyd. Ek vra dat ons saamstaan en vir mekaar bid. Bid vir elkeen wat moet gaan werk. Bid vir die hospitaal personeel, die pasiënte en hul families. Bid vir besighede en almal wat swaarkry. Sê dankie vir jou en jou familie se gesondheid. Maak die beste van hierdie onaangename situasie. Leer nuwe vaardighede aan. Help waar jy kan! Waardeer wat jy het en vra vir God om jou hand styf vas te hou. Met behulp van Hom, sal ons veilig hierdeur kom.\

BELYDENISKLAS VAN  2020