16 Februarie 2021
2020 was ‘n deurmekaar jaar vol uitdagings vir almal, maar ons het baie geleer – ook by die Kategese. Groot planne is gemaak vir 2021 en ons is opgewonde om dit met julle te deel.
Daar word hard gewerk om die Jeug op De Eike se webblad aan te bring en ons hoop om dit binnekort af te handel. Op hierdie manier wil ons materiaal deel wat gesinne en families help met die geestelike opvoeding van hul kinders – want dis nou een ding wat ons geleer het uit die pandemie – dis nie by die kerkgebou wat ons gevoed en versterk word nie, maar by die huis, saam met ons gesinne waar ons bymekaar kom om te luister na ‘n Godgegewe boodskap.
Vir ons kinders is daar opwindende planne om video boodskappe op te neem soos verduidelik in Riëtta se boodskap hieronder, terwyl die Senior Kategese met Zoom die Inniewoord-reeks gaan aanpak. Vanjaar is Ds Hannes aan die stuur van die Belydenisklas met ‘n wonderlike groep voogde. Ons het ook splinternuwe projekte (waarvan julle binnekort meer gaan hoor) en beplan om twee lekker kompetisies later die jaar te hou waartydens ‘n wegbreek naweek op die spel is. Meer inligting hieroor sal binnekort gedeel word.
Dan wil ons aan almal wat bereid is om diensbaar te wees as klasleiers en voogde baie dankie sê. Ons weet dit is nie ‘n maklike taak nie, veral om dit tussen al jul ander verantwoordelikhede in te pas. Dankie ook aan almal wat verlede jaar betrokke was. Julle stel ‘n wonderlike voorbeeld vir ons almal. Mag julle almal eendag die vrugte sien van die Koninkrykswerk waarby julle betrokke was/is.
Laastens wil ons De Eike ‘n wonderlike, geseënde 2021 toewens. Mag ons harte en gedagtes met hoop en liefde gevul wees sodat ons die Almagtige Vader se ligdraers kan wees daar waar ons in die voetspore van Jesus volg.
Groete en seën, Jeugkommissie