3 Maart 2023

Tema van die Jaar – Taiwan

Vanjaar is dit die 93ste viering van die Wêreldbiddag in Suid-Afrika.  Die land wat vanjaar spesiaal in gebed opgedra word, is Taiwan, en die leuse van hierdie jaar is “Ek het van julle geloof gehoor”.  Taiwanse vroue se deelname aan die Wêreldbiddag dateer terug na Maart 1935. Onder leiding van die Presbiteriaanse Kerk in Taiwan het die Wêreldbiddag in ‘n kort tydjie baie gegroei.  Die program word elke jaar in 13 tale vertaal en ongeveer 7000 vroue woon jaarliks die dienste by.

 

Taiwan is al jare vasgevang in ‘n stryd tussen supermoondhede.  Ons bid dat Taiwan ‘n seën vir die wêreld sal wees.  Ons bid vir die vroue en kinders wat fisiese pyn, verwerping en emosionele mishandeling ondervind.

 

Kuilsrivier-Suid gemeente het ‘n pragtige, geesvervulde aand aangebied, waarby die vier NG gemeentes van die dorp betrek is, asook Die Calvynse kerk in Eersterivier, en die VGK Sarepta.

 

Wat ‘n voorreg was dit gisteraand om saam met die hele wêreld se vrouens, asook ons onmiddellike gemeenskap se vrouens, saam stil te word, en te bid, te aanbid deur middel van sang, en bedien te word met ‘n sielvolle boodskap uit Efesiërs 1: 15-23, Paulus se gebed.

 

Ek het die voorreg gehad om ons gemeente te verteenwoordig, en ook ‘n gebed voor te lees vir ons gestuurdes: Danie Murray in Mosambiek, en Lorette en Rahul in Indië.  Hulle het vir ons inligting gestuur waarvoor ons kon bid, en Lorette het ‘n video gestuur waarna ons kon kyk in ‘n gedeelte van die aand.  Johanette Louw het vir elke gestuurde ‘n kers aangesteek, asook vir ons eie gemeente.

 

Ons het ook gebid vir die ander gemeentes en hul gestuurdes:

 

Eersterivier Calvynse kerk: Eben en Sally Smit en dogter Anchin van World Mission Centre, in Buenos Aires, Argentinië

VGK Sarepta: Hierdie gemeente is vanjaar 180 jaar oud; Hul vrouebediening CVB (Christen Vroue Bediening)

Kuilsrivier Moedergemeente: Hierdie gemeente is vanjaar 120 jaar oud; Ds Danie Murray van Mosambiek

Kuilsrivier-Suid: Samuel Murray en gesin in Zambië; Pastoor Sam Salva Raj sy vrou Jesse Vena, kinders en kleinkinders in Chennai, Indië; Ilia Scolric en gesin in Serwië

Digtebij: Llywellen en Lize Oliver in Mosambiek

 

Kuilsrivier-Suid se vrouens het geweldig baie moeite en tyd spandeer om ‘n pragtige, sielvolle aand aan te bied vir alle vrouens in die dorp.

Tog jammer dat so min (minder as 10) van De Eike se vrouens die geseënde geleentheid bygewoon het. ‘n Mens sou wou hê dat alle vrouens die seën ontvang.

 

Liefde-Groete

Riëtta Odendal