5 Maart 2021
Die biddag is ‘n ekumeniese beweging van Christelike vroue wat in meer as 170 lande plaasvind. Dit bring vroue van alle rasse, kulture en kerke saam om deur gebed en aksie vir vrede en geregtigheid te bid. Elke jaar word daar gefokus op ‘n ander land met ‘n unieke tema. Die biddag vind plaas op die eerste Vrydag van Maart, vanjaar dus vandag 5 Maart.
Die eerste wêreldbiddag vir vroue in Suid-Afrika is in Maart 1930 in die Kaap gehou.
Normaalweg reël die Kommissie vir Vrouelidmate van De Eike ‘n byeenkoms vir dié geleentheid, met ‘n spreker en geleentheid vir gebed.
Vanweë die onseker omstandighede het ons vanjaar nie ‘n byeenkoms gereël nie. Met die verandering na inperkingsvlak 1, was daar ongelukkig nie genoeg tyd om ‘n byeenkoms te reël nie. Die kommissie daag egter steeds ons vrouelidmate uit om, waar jy ookal is vandag, hetsy by die huis of by die werk, geleentheid te maak om met die Here in gesprek te tree. Bid vir ons land, ons kerk, ons skole, ons gesondheidswerkers, almal wat deur COVID geraak is, ens.
Vanjaar se tema en boodskap is saamgestel deur die vroue van Vanuatu, ‘n eiland in die suidelike Stille Oseaan, Noord-oos van Australië Gaan lees gerus Matt 7:24 tot 27 – die bou van jou huis op sand of op rots.
Vanuatu is ‘n eiland wat deur aardbewings, siklone en vulkaniese uitbarstinge geteister word. Die huise se fondasie is dus van uiterste belang.
Gelukkig ervaar ons in Suid-Afrika nie gereeld dié tipe natuurrampe nie, maar steeds is dit belangrik dat ons fondasie goed gevestig is. Nie net ons huise nie, maar ook ons lewens. Wanneer jou fondasie stewig in Jesus gevestig is, sal jy ook die rampe wat die lewe na jou kant stuur, kan trotseer.
Gaan gerus na die webwerf https://www.wwdp.org.uk/ en kyk na die video wat deur die vroue van Vanuatu vir vandag opgeneem is.
Die organisasie wat wêreldbiddag vir vroue wêreldwyd organiseer, se enigste inkomste is kollektes wat tydens gebedsgeleenthede opgeneem word.
Indien jy graag ‘n bydrae vir hierdie saak wil gee, kan jy dit by ons kerkkantoor doen of EFT na ons bankrekening waarna ons dit aan hulle sal oorbetaal.
Bankbesonderhede: ABSA
Tjek rek: 3010590069
Takkode: 632005
Verwsing: Vroue Biddag